Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Munisipale Werknemers-pensioenfonds berig 97-persent suksesvolle uitbetaling van tweepot-eise
# Israel teiken Huthi-rebelle in Jemen nadat hulle ‘n missiel onderskep wat uit die land afgevuur is
# En, krieket: Björn Fortuin vervang die beseerde Keshav Maharaj in die Proteas se groep vir die oorblywende eendagwedstryde teen Pakistan
# Die Munisipale Werknemers-pensioenfonds het bekendgemaak 97-persent van die eise vir die tweepot-stelsel is suksesvol verwerk en uitbetaal. Woordvoerder Mathawe Matsapola sê die oorblywende drie-persent verteenwoordig 113 lede. Dit is nog nie afgehandel nie om uiteenlopende redes, insluitend hangende skeisake, uitstaande eis-dokumente, lede wie se betalings nie op datums is nie, wanbetalende munisipaliteite en in sommige gevalle het lede hul aansoeke teruggetrek:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum sê die voortdurende uitdagings met water – veral in Johannesburg – moet gebruik word as toets vir partye wat nie in 2026 op die stembrief hoort nie. Rand Water se instandhoudingsprogram van 86-uur die afgelope naweek het talle inwoners sonder water gelaat. Sekere gemeenskappe is steeds sonder water. Marothi Mashashane van die forum sê aanspreeklikheid is deurslaggewend:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê die voortslepende onrus in Mosambiek sal ‘n uitwerking hê op ekonomiese groei. Woordvoerder Olamide Harrison sê Mosambiek se voorspellings vir groei van 4,3-persent in 2024 mag afgegradeer word na die onluste en Sikloon Chido. Harrison sê die onrus oor betwiste verkiesingsuitslae het roetes vir mynbou en handel ontwrig terwyl 34 mense tydens die storm dood is. IMF-onderhandelinge vir krediet sal hervat nadat Mosambiek se politieke oorgang afgehandel is.
# Israel het hawens en energie-infrastruktuur in Jemen aangeval nadat hulle ʼn missiel onderskep het wat uit die land afgevuur is. Israel het leiers van die Huthi-rebelle gewaarsku hulle is binne trefafstand. Volgens Huthi-media het die aanvalle kragstasies, olievelde en ‘n hawe in Hodaidah getref, nege mense gedood en verskeie beseer. Iran, wat die groep steun, beskryf die aanvalle as ‘n oogluikende skending van die beginsels en norme van internasionale reg en die Handves van die Verenigde Nasies. Die Huthis teiken Israel gereeld weens sy militêre optrede in Gaza.
# Krieket: Björn Fortuin vervang die beseerde draaibouler, Keshav Maharaj, in die Proteas se groep vir die oorblywende twee eendagwedstryde teen Pakistan. Maharaj het Dinsdag sy lies beseer tydens opwarming voor die eerste eendagwedstryd in die Paarl en dit is later deur ʼn skandering bevestig. Hy is steeds in die groep vir die twee toetse, waarvan die eerste een volgende Donderdag in Centurion begin. Die tweede eendagwedstryd vind vandag op Nuweland in Kaapstad plaas en die laaste een Sondag op die Wanderers in Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-772-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-621-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….