Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ACSA se bestuurders word beskuldig van wangedrag en nepotisme
# Dele van Suider-Afrika kan nog ‘n droë seisoen ervaar na die El Niño-weerverskynsel
# En, rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu is gemotiveer om die Stormers se nagmerrie-seisoen om te keer
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika is onder die loep ná bewerings oor wangedrag en nepotisme waarby senior bestuurders betrek word. IOL berig beskuldigings sluit in onreëlmatighede in tenderprosesse en voorkeuraanstellingspraktyke tot voordeel van voormalige kollegas. Dit volg te midde van ‘n omstrede Smart Security-keuringstender ter waarde van ‘n miljard-rand wat kommer wek oor die bestuur van die organisasie. Daar is reeds ‘n geskiedenis van omstredenheid by die onderneming, insluitend onopgeloste kontrakgeskille en onbetaalde fakture.
# Die Nasionale Landboubemarkingsraad het president Duma Boko van Botswana se besluit verwelkom om beperkings op die invoer van groente uit Suid-Afrika op te hef. Dit sluit borrie, pampoen, groen-ertjies en sampioene in. Fase twee volg in April wanneer die verbod op produkte soos beet, botterskorsie, uie, tamaties en aartappels opgehef word. Die raad se woordvoerder, Mashao Mohale, sê die gevolge van Botswana se invoerbeperkings is op verskeie vlakke gevoel, insluitend die verlies aan uitvoer-inkomste en die ontwrigting van kwesbare voedselstelsels:
# Dele van Suider-Afrika het nog ‘n droë seisoen op hande ná die ergste droogte in dekades weens die El Niño-weerverskynsel. Lande soos Zimbabwe het baie min reën gehad, ondanks voorspellings van reën in Oktober. Meer as die helfte van dié land se 16-miljoen inwoners het vanjaar voedselhulp nodig. Gesinne slaan reeds etes oor om hul voorraad te rek. Die Wêreldvoedselprogram is bekommerd oor die verslegtende toestande. Programdirekteur Barbara Clemens glo grondhervorming en klimaatsverandering het Zimbabwe se vermoë verswak om kos volhoubaar te produseer.
# Rugby: Die Stormers se Springbok-losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezulu, sê hy is gereed om sy besering-ellende agter hom te sit terwyl hy gereed maak vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Leeus. Die 22-jarige, wat in Junie teen Wallis sy toetsbuiging gemaak het, het die afgelope maande gesukkel met ‘n kniebesering en harsingskudding. Die Stormers het net twee van hul eerste ses wedstryde in die VRK-seisoen gewen. Feinberg-Mngomezulu sê die span is gemotiveer om koers te verander:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-356-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-615-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die restaurant-resensent Grace Dent sal Gregg Wallace vervang in die volgende BBC Celebrity MasterChef-reeks. Sy sal in die 20ste seisoen van die kompetisie as beoordelaar aansluit by die gereelde aanbieder, John Torode. Meer as ‘n dosyn mense van verskillende programme waaraan Wallace oor ‘n 17-jaar-tydperk gewerk het, het hom van onvanpaste gedrag beskuldig. Verlede maand is aangekondig hy verlaat sy aanbiedingsrol te midde van ‘n eksterne ondersoek oor geskiedkundige bewerings van wangedrag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….