Nuus 11:00
BULLETIN 19 Desember 2024 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Poskantoor se mandaat word uitgebrei met die ondertekening van ‘n wysigingswetsontwerp
# Die Wes-Kaap bevestig gevalle van witseerkeel
# En NAVO wil Oekraïne versterk vir enige toekomstige vredesonderhandelings met Rusland
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Poskantoor bekragtig. Die Presidensie sê dit sal verseker dat die Poskantoor bemagtig word om nie slegs basiese posdienste te lewer nie, maar ook ander waardetoegevoegde dienste waarmee hy groter inkomste kan verdien. Die nuwe wet het ook ten doel om die staatsbeheerde instelling se afhanklikheid van regeringsbefondsing te staak en die doeltreffende aanwending van Poskantore te verseker.
# Die Nasionale Minimumloonkommissie het sy aanbevelings vir die jaarlikse hersiening van die nasionale minimum loon in die Staatskoerant gepubliseer. Dit volg nadat geskrewe voorleggings ontvang is oor moontlike aanpassings aan die loon vir 2025. Die Departement van Indiensneming en Arbeid se woordvoerder, Teboho Thejane, sê die kommissie beveel aan die loon styg met verbruikersprysaanwyser plus 1,5-persent. Hy voeg by teen die huidige inflasievlakke moet die minimum loon tot sowat 28-rand-50-sent per dag styg:
# Die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement sê drie witseerkeel-gevalle in die Kaaptadse metro-distrik is onlangs in ‘n laboratorium bevestig. Een sterfte is aangemeld en nog twee vermeende gevalle word ondersoek. Die aansteeklike siekte word oorgedra deur druppels uit die boonste lugweë of kontak met ʼn besmette persoon. Simptome sluit in ʼn seer keel, koors, bewing, naarheid en moeite om te sluk of asem te haal. Die departement is besig om hoë risiko-gevalle in te ent.
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê dis belangrik om strategieë gereed te hê om Oekraïne te versterk in die geval van toekomstige vredesonderhandelings met Rusland. Die Kremlin het verlede week gesê die oorlog in Oekraïne sal voortgaan tot president Vladimir Putin se doelwitte deur militêre optrede of onderhandeling bereik word. Rutte beklemtoon omvattende bystand, insluitend lugverdediging en ander wapenstelsels, om Oekraïne se posisie te versterk:
# Rugby: Die Stormers se Springbok-losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezulu, sê hy is gereed om sy besering-ellende agter hom te sit terwyl hy gereed maak vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Leeus. Die 22-jarige, wat in Junie teen Wallis sy Springbok-debuut gemaak het, het die afgelope maande gesukkel met ʼn kniebesering en harsingskudding. Die Stormers het net twee van hul eerste ses wedstryde in die VRK-seisoen gewen. Feinberg-Mngomezulu sê die span is gemotiveer om koers te verander:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar,18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-223-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-613-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….