Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nooddienste in eThekwini is op hoë gereedheidsgrondslag ná ‘n vlak 5-weerwaarskuwing
# Motorsport: Minister Gayton McKenzie beloof om Formule Een na Suid-Afrika te bring
# En Corbin Bosch kry sy eerste kans op toetskrieket in die reeks teen Pakistan
# Die Rampbestuursentrum en ander nooddienste in die eThekwini-metro is op bystand nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n ernstige oranje vlak 5-waarskuwing vir KwaZulu-Natal uitgereik het. Die metro se woordvoerder, Mduduzi Ncalane, sê daar word oor die hele provinsie wydverspreide buie en donderbuie voorspel, van vandag tot môre oggend 4-uur:
Die Verenigde Nasies beoordeel intussen die omvang van die skade wat sikloon Chido in die noorde van Mosambiek aangerig het. Derduisende mense is ontwortel, insluitend meer as 90-duisend kinders. Die storm het volgens berigte 35-duisend huise beskadig, 186 klaskamers vernietig en lewensbelangrike infrastruktuur geraak, soos gesondheids- en watergeriewe. Stephane Dujarric van die VN sê bykomende befondsing word benodig om humanitêre pogings te steun:
# Motorsport: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het onderneem om Formule Een-wedrenne na Suid-Afrika te bring. Die minister het op ‘n nuuskonferensie sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die sewemalige F1-kampioen, Lewis Hamilton, omdat hy vasberade voorspraak maak vir ‘n Grand Prix in Afrika. McKenzie sê Suid-Afrika, met sy groot motorsportgemeenskap en infrastruktuur, is uitstekend geleë om teen 2027 ‘n wedren te kan aanbied:
# Krieket: Die naatbouler van die Titans, Corbin Bosch, seun van die ontslape Suid-Afrikaanse bouler Tertius Bosch, is die eerste keer in die toetsgroep ingesluit vir die reeks teen Pakistan. Die Lions se nuweling-snelbouler, Kwena Maphaka, is in die groep van 16 spelers behou nadat hy ook in die groep was vir die reeks teen Sri Lanka. Die eerste toets is op SuperSportpark in Centurion van 26 tot 30 Desember en die tweede kragmeting op Nuweland in Kaapstad van 3 tot 7 Januarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-135-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch sê die antibiotika levofloxacin wat een keer per dag vir ses maande geneem moet word, het die gevaar teen middelweerstandige tuberkulose in kinders aansienlik verminder. Professor James Seddon sê volgens ‘n verslag deur die universiteit se navorsers verminder die middel tuberkulose onder kinders met 56-persent. Hy sê die proewe het ook getoon die middel is veilig en sonder ernstige newe-effekte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….