Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nuwe kundige komitee oor gesondheid gee aandag aan voedseloordraagbare siektes
# Motorsport: ‘n Bod word ingedien om ‘n Grand Prix na Kaapstad te neem
# En ‘n Ierse reguleerder beboet Facebook se eienaar, Meta, met 4,8-miljard-rand
# Die ministeriële raadgewende komitee oor voedseloordraagbare siektes het 15 kundiges aangestel om langtermyn-strategieë te ontwikkel vir die voorkoming van uitbrekings en die verbetering van voedselveiligheid. Dit volg nadat verskeie kinders gesterf het nadat hulle versnaperinge geëet het wat besmet was met die uiters giftige chemiese organofosfaat Terbufos. Dit het die regering aangespoor om gesondheidsregulasies te versterk. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die komitee sal aandag skenk aan leemtes in die regulatoriese stelsel om openbare gesondheidsveiligheid te verseker:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê 2025 beloof om nog ‘n goeie jaar te wees vir die bevordering van wetenskap en tegnologie. Die ministerie se woordvoerder, Veli Mbele, sê departement het onlangs ʼn oorkoepelende mantra aanvaar: Wetenskap, tegnologie en innovering moet die middelpunt wees van die regering, onderwys, die samelewing en nywerheid. Hy sê hulle sal in die nuwe jaar wetenskap, tegnologie en innovering meer aggressief inspan om die land se dringendste maatskaplike probleme te hanteer:
# Die Stad Kaapstad se Identikidz-program vir die feestyd het afgeskop met meer as 14-duisend kinders wat op 15 strande geregistreer is. Agt verlore kinders is met hul gesinne herenig. Muizenberg het die meeste registrasies, meer as twee-duisend-200. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die stad fokus hierdie feestyd steeds op die verskaffing van veilige en prettige geleenthede vir jongmense:
# Motorsport: Die Langa Lethu Suid-Afrikaanse Grand Prix-bodgroep gaan ‘n voorstel indien om ‘n toekomstige Grand Prix aan die Kaapse Weskus aan te bied. Motorsport Media berig die groep beplan ‘n wêreldklas-renbaan met ‘n ikoniese agtergrond soos Tafelberg. Dit kom voor die aankondiging deur die minister van Sport, Gayton McKenzie, van ‘n Formule 1-reёlingskomitee. Langa Lethu beloof werkskepping, ekonomiese groei en ‘n graad een- F-I-A-renbaan wat toeganklik is vir meer as 100-duisend toeskouers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-643-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Ierse reguleerder het die eienaar van Facebook, Meta, beboet met 4,8-miljard-rand oor ‘n fout met databeskerming wat kuberkrakers toegang gegee het tot gebruikers se rekenings. Die Databeskermingskommissie het Meta gekritiseer vir ‘n sekerheidsfout in sy video-oplaaifunksie wat kuberkrakers toegelaat het om volle toegang tot ander gebruikers se Facebook-profiele te kry. Ongemagtigde gebruikers kon in 2018 binne twee weke toegang bekom tot ongeveer 29-miljoen Facebook-rekeninge wêreldwyd. Die persoonlike data het e-posadresse, telefoonnommers, woon- en werksplekke ingesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….