Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gesamentlike feestydplan word onthul om voedselveiligheid en onwettige handel aan te pak
# Krieket: Die Protea Vroue se kaptein word berispe omdat sy teëpraat in die toets teen Engeland
# En, WhatsApp voeg nuwe kenmerke by oproepe voor die feestyd
# Die regering het ‘n gesamentlike feestydplan onthul om voedselveiligheid aan te pak en onwettige handel te bekamp. Die plan behels die verbetering van inspeksies by toegangspoorte, deur-tot-deur nakomingsbeheer en stappe wat pakkamers, supermarkte en voedselhanteerders sal teiken. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het op ‘n nuuskonferenssie gesê die inspeksies word verskerp om onveilige goedere te stop en hoërisiko-bedrywighede te teiken:
# Die Outomobiel-Assosiasie se ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds toon stygings en dalings in brandstofpryse vir Januarie. Woordvoerder Eleanor Mavimbela sê die inligting toon ‘n effense styging in die prys van 93-oktaan loodvrye brandstof met ‘n daling in diesel- en paraffienpryse. Sy sê op grond van die inligting gaan die prys van 95-oktaan loodvrye brandstof met ongeveer drie-sent per liter styg, met 93-oktaan wat waarskynlik met 11-sent per liter gaan styg:
# Die leier van Al Jama-ah, Ganief Hendricks, sê hulle het ‘n desperate beroep gedoen op president Cyril Ramaphosa om ‘n moratorium in te stel teen plaasuitsettings en gedwonge verskuiwings in die Wes-Kaap. Hy sê daar is een-duisend-500 hofaansoeke vir plaasuitsettings in die Paarl en Wellington. Hendricks voeg by dit sal waarskynlik meer as twee-duisend mense raak wat in Drakenstein se munisipale gebied op plase woon:
# Krieket: Die kaptein van die Protea Vroue, Laura Wolvaardt, is ingevolge die gedragskode van die Internasionale Krieketraad berispe gedurende die toets teen Engeland wat gister in Bloemfontein geëindig het. Sy is daaraan skuldig bevind dat sy haar misnoeë te kenne gegee het nadat sy in Suid-Afrika se eerste beurt been-voor-paaltjie uitgegee is. Die IKR het een strafpunt by haar rekord gevoeg na haar eerste oortreding in 24 maande. Wolvaardt het die aanklag en die bevinding aanvaar, wat voorkom dat sy amptelik verhoor word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-44-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-648-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: WhatsApp het nuwe oproepkenmerke vir rekenaars en selfone bekendgestel wat dit makliker as ooit tevore sal maak om met familie en vriende in verbinding te wees. Meer as twee-miljard oproepe word daagliks met die toepassing gemaak. Die nuwe kenmerke laat gebruikers toe om spesifieke deelnemers vir ‘n groepklets te kies, asook prettige nuwe effekte vir video-oproepe, insluitend hondjie-ore, onderwater of ‘n karaoke-mikrofoon. Oproepkenmerke is verbeter vir sowel rekenaars as selfone en oproepe is nou meer betroubaar, met ‘n hoër resolusie videogehalte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….