Nuus 08:00
BULLETIN 18 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Hlengwa sê die koste van padongelukke belemmer volhoubare ekonomiese herstel
# Daar was ’n toename van 300-persent in identiteitsbedrog in Suid-Afrika geduende 2024
# En krieket: Pakistan klop Suid-Afrika in die eerste eendagwedstryd
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, sê die uitwerking van padbotsings op die ekonomie is beslis verswakkend, en raak beide klein en groot besighede. Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie se Staat van Padveiligheidverslag vir Januarie 2023 tot Desember 2023, word die totale koste van padbotsings beraam op ‘n aangepaste koste van 205,13-miljard-rand. Hlengwa sê dit is weens die menslike en ekonomiese koste dat die regering gedwing word om op te tree met volharding en ‘n onwrikbare toewyding om padbotsings te voorkom.
# Die Vereniging van Staatsamptenare dring aan op groter aanspreeklikheid nadat die Appèlhof die voormalige minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, beveel het om twee-miljoen-rand vir private sekerheidsdienste terug te betaal. Die hof het beslis die betaling vir dienste van 3,5-miljoen-rand deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid was onwettig. Woordvoerder Claude Naiker veroordeel magsmisbruik deur politici en vra vir beter beheermaatreëls om verkwistende besteding van openbare geld te voorkom:
# Suid-Afrika het in 2024 ‘n 300-persent toename aangeteken in identiteitsbedrog. Die styging word aangevuur deur vervalste ID-dokumente, wat wêreldwyd verantwoordelik was vir 50-persent van die bedrogpogings. Sumsub se Identity Fraud Report toon bedrog op die Afrika-vasteland het met 167-persent gestyg, met ondernemings soos aanlyn media en bankwese wat die meeste geraak is. Sumsub het die opkoms van bedrog as ‘n diens en georganiseerde netwerke beklemtoon, wat opsporing bemoeilik. Kenners vra strenger nakoming, gevorderde monitering en verbruikersopvoeding om hierdie groeiende bedreigings doeltreffend te pak.
# Die Verenigde Nasies se spesiale gesant in Sirië, Geir Pedersen, waarsku die konflik is nie verby nie, selfs na die uitsetting van die voormalige president Bashar al-Assad. Dit volg op voortgesette botsings tussen die Turks-gesteunde Siriese Nasionale Weermag-rebelle en die Koerdies-geleide en Amerikaans-gesteunde Siriese Demokratiese Magte. Pedersen, wat Sirië se nuwe de facto-regeerders, die Hayat Tahrir al-Sham-groep, ontmoet het, het kommer uitgespreek oor berigte van militêre eskalasie, en sê dit kan katastrofies wees:
# Krieket: Pakistan het Suid-Afrika met drie paaltjies verslaan in die eerste van drie kragmetings. Die Proteas het 239 vir nege aangeteken, met Heinrich Klaasen wat 86 bygedra het. In antwoord het Saim Ayub 109 van 119 balle en Agha Salman, ‘n onoorwonne 82 behaal. Die besoekers het die teiken bereik met drie balle oor. Pakistan is nou een-nul voor in die reeks, met die tweede kragmeting môre op Nuweland. Die Protea-kaptein Aiden Markram sê daar was ‘n tekort aan lopies:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-328-dollars-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-644-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-24-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….