Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Desember 2024:
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor ‘n verslag van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole oor probleemgebiede in die land se skole. Die verslag lig onder meer die gebrek aan plek in skole, gebrekkige infrastruktuur en agterstallige skoolgeld uit as van die vernaamste probleme.
En tweedens skryf die koerant die werk aan Johannesburg se waterinfrastruktuur is afgehandel, maar inwoners sal steeds moet wag totdat almal water het.
# The Star & Pretoria News:
Berig die Sekunjalo-groep gaan Nedbank en die ander handelsbanke voor die Mededingingstribunaal daag oor die sluiting van die groep se bankrekenings.
# En The Citizen:
Skryf die ANC staan nie ‘n kans om sy appèl teen die MK-party te wen vir die gebruik van die Umkhonto we Siswe-embleem nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met ‘n waarskuwing deur die president van Vrystaat Landbou, Francois Wilken. Hy sê die boerderybedryf staan voor sy grootste krisis ooit. Hy sê boere is finansiëel, emosioneel en geestelik in die moeilikheid en daar word nie aandag geskenk aan die werklike probleme in die bedryf nie.
En tweedens word berig dele van die Noord-Kaap en Vrystaat het welkome verligting ontvang nadat reën oor dele uitgesak het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oudpresident Jacob Zuma bedel nou openlik geld vir die MK-party. Politieke ontleders is egter van mening dat die party wel geld het anders sou dit nie so goed gevaar het in die verkiesing nie.
En tweedens skryf die koerant die taxibedryf is bekommerd oor die groot aantal noodlottige ongelukke in die Oos- en Wes-Kaap die afgelope naweek.
# En Cape Times:
Skryf honderde gegradueerdes se kwalifikasies word van hulle weerhou omdat hulle steeds studieskuld het.
En berig oor die rioolkrisis in Heinzpark.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar heers chaos in die Gqeberha-kommunikasiekantoor. Daar is bewerings van verbale mishandeling, onbillike arbeidspraktyke, intimidasie en dreigende gedrag. Van die personeel wil bedank.
En tweedens skryf die koerant spazawinkeleienaars in Gqeberha sê hulle is verward oor hoe hulle dokumente moet verskaf wanneer dit maande neem om die dokumente in die hande te kry.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf hoewel die premier van KwaZulu-Natal glo die toekoms van die provinsie is rooskleurig, het ‘n misdaadkenner na aanleiding van die jongste statistiek ‘n donker toekoms geskets.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese kuberveiligheidslandskap het in 2024 ‘n aansienlike toename in kuberaanvalle gesien, met meer as 1,1-miljoen voorvalle tussen Januarie en September vanjaar.
En laastens skryf die koerant normale reënval word voorspel gedurende Januarie tot Maart 2025.