Nuus 07:00
BULLETIN 18 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Save SA versoek president Ramaphosa om Klousules 4 en 5 van die BELA-wet in te stel
# Die waarnemende burgemeester van Johannesburg is tevrede met die stad se wateropgradering
# En krieket: Engeland se vrouespan verseker ‘n oortuigende toetsoorwinning teen Suid-Afrika
# Save South Africa het ‘n beroep gedoen op president Cyril Ramaphosa om die inwerkingstelling van klousules 4 en 5 van die Wysigingswet op Basiese Onderwys oftewel die BELA-wet te prioritiseer en waarsku vertragings kan die Klas van 2025 benadeel. Die organisasie kritiseer die DA se beweerde foutiewe inligting rakende Afrikaans in skole en beklemtoon alle tale is gelyk. Tebogo Mashilompane van Save SA pleit vir nie-rassige, inklusiewe onderwys en veroordeel diskriminerende praktyke uit die apartheidsera:
Die GOOD-party beskuldig die DA intussen van huigelary omdat die party die BELA-wet in Tulbagh in die Wes-Kaap in werking stel, maar dit in die openbaar teenstaan. Dit volg nadat die LUR vir Onderwys, David Maynier, bevestig het Hoërskool Tulbagh sal volgende jaar dubbelmedium word om Engelssprekende kinders uit oorvol township-skole in te neem. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, voer aan die DA se federale voorsitter, Helen Zille se uitgesproke teenstand teen die wet wys op die DA se misleidende veldtog teen BELA:
# Die waarnemende Johannesburgse burgemeester, Nomoya Mnisi, het sy tevredenheid uitgespreek met die suksesvolle opgradering van die metro se waterinfrastruktuur deur Johannesburg Water en Rand Water die naweek. Rand Water het instandhouding aan sy Eikenhof- en Zwartkopjes-pompstasies gedoen, wat 86 uur lank geduur en baie sonder water gelaat het. Die watervoorsiener het gewaarsku dit sal ‘n paar dae neem vir die stelsel om te herstel. Mnisi sê hierdie verbeterings is deel van voortdurende pogings om meer betroubare en volhoubare watervoorsiening vir inwoners te verseker.
# Ministers van Suid-Afrika en Mosambiek sal vandag die Lebombo-grenspos in Mpumalanga besoek as deel van hul bilaterale samesprekings. Geweld na die onlangse verkiesing in Mosambiek ontwrig tans werksaamhede by die grenspos, wat verlede week tydelik gesluit is met vragmotors wat vir etlike dae in lang toue gestrand was. Die woordvoerder vir die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê die besoek is daarop gemik om samewerking oor veiligheid, handel en grensbeheer te bevorder:
# Krieket: Engeland se vrouespan het Suid-Afrika met 286 lopies verslaan in die enkel-toetswedstryd in Bloemfontein. Nonkululeko Mlaba het ses paaltjies vir 67 lopies geneem toe die Proteas die besoekers vir 236 in hul tweede beurt uitgeboul het. Kaptein Heather Knight het 90 aangeteken. Met 351 in die visier om te wen, het die gasvroue verkrummel tot 64 almal uit, hul laagste toetstelling ooit. Engeland het ook die T20- en eendagreeks teen Suid-Afrika gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-31-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….