Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Toerisme-aandelefonds moet voorkeur gee aan kleinsake
# Sokker: Die verdedigende kampioene Engeland is in ‘n moeilike groep vir die Vroue Euro 2025
# En, wetenskaplikes ontdek hoe klimaatsverandering plante se groeisiklusse verander
# Die DA verwelkom die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se kritiek teen die Toerisme-aandelefonds se stadige vordering om klein-, medium- en mikro-ondernemings in die toerismesektor te ondersteun. Sedert November verlede jaar is slegs 20 aansoeke goedgekeur wat op 301-miljoen-rand te staan kom. ‘n DA-woordvoerder, Haseena Ismail, sê die fonds moet voorkeur gee aan die ondernemings wat die vermoë het om werk te skep en werksgeleenthede te behou:
Intussen verseker die burgemeester van die eThekwini-munisipaliteit, Cyril Xaba, plaaslike en internasionale besoekers Durban is inderdaad gereed om ‘n veilige en onvergeetlike feestyd aan te bied. Mense word aangemoedig om in groot getalle na Durban te kom om die wye reeks toerismeprodukte te verken. Volgens Xaba is die metro vol vertroue meer as 1,3-miljoen besoekers sal gedurende hierdie feestyd opdaag:
# China sê hy is bereid om ter wille van bestendige bilaterale betrekkinge met Indië saam te werk. Dit kom voor seldsame hoëvlak-gesprekke hierdie week oor ‘n dekade lange grensgeskil. Die twee lande met die grootste bevolkings ter wêreld is intense geopolitieke mededingers en het mekaar daarvan beskuldig dat hulle die grondgebied langs hul nie-amptelike skeidslyn, die Lyn van Werklike Beheer, probeer beheer. Hulle gedeelde grens van drie-duisend-500 kilometer is ‘n voortdurende bron van spanning tussen die kernmoondhede. Vandeesweek se samesprekings is die eerste in vyf jaar, wat dui op moontlike vriendeliker betrekkinge.
# Sokker: Engeland begin die verdediging van hulle titel by die 2025 Europese Vrouekampioenskap op die vyfde Julie teen Frankryk in Switserland. Die Lionesses speel ook in Groep D teen Wallis en Nederland, wat in 2017 die Europese titel verower het onder leiding van die huidige Engelse bestuurder, Sarina Wiegman. Gasvroue Switserland is in Groep A saam met Noorweë, Ysland en Finland terwyl groep B saamgestel is uit Spanje, Portugal, België en Italië. Duitsland, Pole, Denemarke en Swede is in Groep C.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-634-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-93-sent per vat.
# Ten slotte: Wetenskaplikes kan nou meer akkuraat voorspel hoe klimaatsverandering plante se groeisiklusse beïnvloed. Navorsers het inligting uit die 19de eeuse Smithsonian-verslag en moderne waarnemings vergelyk en bevind plante in Amerika blom tot vier weke vroeër as 150 jaar gelede. In gebiede waar verwarming vinniger plaasvind, soos dié naby water, verander blompatrone en spesies wat laat blom, blom nou vroeër. Hierdie verbeterde model help bewaringsbewustes om te beplan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….