Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid merk ‘n toename in reisigers op by grensposte
# Die DA bestempel die Gautengse kankerkrisis as ‘n skandaal vergelykbaar met Life Esidimeni
# En, tennis: Novak Djokovic vat hande met Nick Kyrgios vir ‘n toernooi in Brisbane
# Die Grensbestuursowerheid het ‘n beduidende toename in die beweging van reisigers by al sy grensposte gemerk te midde van die naderende vakansietyd. Die toename het tot lang rye gelei, veral by die OR Tambo Internasionale Lughawe wat een van die besigste deurgangspunte is. Mmemme Mogotsi van die owerheid sê hulle is daartoe verbind om met die huidige vlak van diens vol te hou, bedrywighede voortdurend te monitor en voorbereid te bly vir moontlike uitdagings:
# Altesaam 15-duisend-871 verdagtes is verlede week in hegtenis geneem vir verskeie oortredings tydens die landwye Operasie Shanela. ‘n Polisiewoordvoerder, Vincent Mukhathi sê met Operasie Shanela gaan die polisie voort om ‘n dapper en beslissende benadering in die hantering van misdaad te volg. Hy sê hierdie misdaadbekampings-bedrywighede sluit in, opsporingsoperasies, padblokkades, hoë-sigbaarheidspatrollies, stop-en-deursoek-operasies en die opsporing van gesoekte verdagtes:
# Die DA bestempel die Gautengse kankerkrisis as ‘n skandaal soortgelyk aan Life Esidimeni. DA-woordvoerder vir Gesondheid, Jack Bloom, sê die versuim van die Gautengse Gesondheidsdepartement om 784-miljoen-rand aan die agterstand met kanker te bestee, is net so groot soos die skandaal met Life Esidimeni. Volgens Bloom toon hofstukke 250-miljoen-rand is nie verlede jaar bestee is nie, terwyl vanjaar se begroting glad nie gebruik is nie. Drie-duisend pasiënte wag op dringende bestraling en Bloom kritiseer die departementele onbevoegdheid. Hy vra ook die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, moet verwyder word omdat sy lewensnoodsaaklike inisiatiewe met behandeling verwaarloos het.
# Owerhede in Amerika en Oekraïne berig Noord-Koreaanse soldate het gesterf in gevegte teen Oekraïense magte, die eerste aangetekende sterfgevalle sedert Noord-Korea troepe ontplooi het om Rusland te ondersteun. Oekraïne se militêre intelligensie-agentskap sê sowat 30 Noord-Koreaanse soldate het in die Koersk-grensgebied in Rusland gesterf of is gewond tydens ‘n geveg die afgelope naweek. Noord-Korea het tot dusver tien-duisend troepe na Rusland gestuur om hom by te staan in die oorlog van bykans drie jaar.
# Tennis: Australië se stoutseun, Nick Kyrgios, gaan die internasionale toernooi in Brisbane saam met Novak Djokovic pak nadat die gewese nommer een-speler hom aangemoedig het om ná ‘n ernstige besering weer tennis te speel. Die gewese teenstanders is deesdae hegte vriende en wil in die Queenslandse toernooi, wat op 29 Desember begin, in die dubbelspel speel. Hulle sal die geleentheid as opwarming benut vir die Australiese Ope in Januarie, met Kyrgios wat vanweë sy besering op ‘n spesiale beskerming staatmaak vir regstreekse toegang tot Melbourne Park.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-137-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….