Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi is geskok oor die SAPD wat R2-miljard moet betaal vir onregmatige inhegtenisnemings en aanranding
# Die Russiese kernbeskermingshoof is dood in ‘n ontploffing in Moskou
# En, krieket: Engeland word verneder in die derde en laaste toets teen Nieu-Seeland
# RISE Mzansi sê hy is geskok oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens se betaling van nagenoeg twee-miljard-rand aan eise vir onregmatige inhegtenisnemings en aanranding tydens polisie-aanhouding vir die 2020/2021- tot 2023/2024-boekjare. Die minister van Polisie, Senzo Chunu, het dit bekendgemaak in reaksie op ‘n parlementêre vraag. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die minister kon egter nie sê aan wie die geld uitbetaal is nie omdat die stelsel nie tussen Suid-Afrikaners en buitelandse burgers onderskei nie:
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde, eis die opskorting van alle kontrakte met die konsultasiegroepe McKinsey en Bains and Company wat by ‘n skandaal betrek is. McKinsey is as ‘n ondersteunende vennoot van die B20 aangestel – ‘n sake-skakelgroep wat tydens die G20-beraad vergader. Bains is op sy beurt deur die Energieraad van Suid-Afrika aangestel om sy kantoor vir projekbestuur te hanteer. Mogoshadi Maserumule van Saftu sê die regering kan nie met maatskappye sake doen wat die land wil laat misluk nie:
# Rusland se ondersoekkomitee bevestig die hoof van die Russiese kernbeskermingsmagte is in ‘n bomontploffing in Moskou dood. Senior generaal Igor Kirillov was die hoof van Rusland se Magte vir Radiologiese, Chemiese en Biologiese Verdediging. Hy is dood toe ‘n versteekte bom in ‘n elektriese bromponie buite ‘n woonstelgebou ontplof het. Volgens die komitee was Kirillov die hoof van die bestralings-, chemiese en biologiese beskermingsmagte van die gewapende magte van die Russiese Federasie. Sy assistent is ook in die ontploffing dood.
# Krieket: Nieu-Seeland het Engeland op die vierde dag van die derde en laaste toets in Hamilton met 423 lopies verpletter in een van hulle grootste toets-oorwinnings ooit. Die besoekers se teiken was 658, en ten spyte van Jacob Bethell se 76, was Engeland op 234 almal uit met Mitchell Santner wat in die tweede beurt vier paaltjies platgetrek het. Dit was ook Tim Southee se laaste toetswedstryd en hy tree uit met 391 paaltjies op sy kerfstok. Engeland wen die reeks twee-een.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-955-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-45-sent per vat.
# Ten slotte: Die Kinderhospitaal-trust vier 30 jaar se lewensveranderende gesondheidsorg vir kinders in die Wes-Kaap. Sedert sy stigting in 1994 het die trust meer as ‘n miljard-rand in projekte belê. Dit sluit hipermoderne fasiliteite by hospitale soos die Rooikruis Oorlogsgedenkhospitaal en Tygerberg in, asook die opleiding van gesondheidswerkers reg oor Afrika. Die trust sê met die ondersteuning van vrygewige skenkers het hy die afgelope drie dekades meer as vyf-en-’n-half-miljoen kinders gehelp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….