Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Desember 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Verskyn eers weer 6 Januarie 2025 in gedrukte formaat – die koerant volg egter die nuus op sy webwerf.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die Cancer Alliance se hofsaak teen die Gautengse Departement van Gesondheid om die behandeling van kankerpasiënte af te dwing. Die departement het nagelaat om sowat 250-miljoen-rand aan die opgradering van kankerbehandeling in die provinsie te bestee.
En tweedens skryf die koerant sowat 35-duisend mense het by die Voortrekkermonument saamgetrek om Geloftedag te herdenk. Daar is veral ‘n beroep gedoen dat die jeug terugkeer na hul erfenis.
# The Star & Pretoria News:
Berig die gesin van Thulani Rafisa wat in die Mangaung-gevangenis aangehou word, het Korrektiewe Dienste beskuldig van swak beheer nadat hy glo in die tronk verkrag is.
En tweedens skryf die koerant oor Masalanabo Modjadji wat as nuwe reënkoningin oorneem.
# Sowetan:
Verskyn eers weer in 2025.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n verslag van Unisa wat onthul dat vroue teen hul wil gesteriliseer is omdat hulle MIV-positief is. Die gebruik is verlede jaar eers gestaak en meer as ‘n honderd vroue was deel van die projek.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n swart boer van Rouxville in die Vrystaat is baie omgekrap oor die moord op sy wit buurman verlede week. Johannes Matosa van die plaas Eden sê die boer het hom as nuweling gereeld bygestaan en gehelp.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n onderwysstudent van Upington, die 20-jarige Tamar Erasmus, wat in ‘n motorongeluk naby Kakamas dood is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig president Cyril Ramaphosa het aangekondig dat ‘n bestuurskomitee in 2025 saamgestel gaan word om ‘n Nasionale Dialoog byeen te roep wat ‘n gesprek tussen burgers sal wees om die toekomspad van die land uit te stippel.
En tweedens skryf die koerant oor die Springbokafrigter Rassie Erasmus wat die FW de Klerk-stigting se eerbewys vir welwillendheid gaan ontvang.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig meer as 18 mense is oor die langnaweek in die Oos-Kaap dood in motorongelukke en 20 beseer.
En tweedens word berig Nelson Mandelabaai se inwoners en sakeondernemings kan ‘n daling in die plaaslike petrolprys verwag voor die einde van Desember.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is ‘n toestroming van toeriste na Durban sedert die vakansieseisoen begin het en dit gee ‘n reuse-inspuiting vir die eThekwini-ekonomie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig sommige inwoners sien die regering se oorhandiging van agt-duisend hektaar aan die |Khomanin Tradisionele Owerheid as ’n stap in die regte rigting, maar ander beskou dit as onvoldoende en kritiseer die gebrek aan deursigtigheid.
Tweedens skryf die koerant die Fishrot-beskuldigde Tamson Hatuikulipi se derde poging om op borgtog vrygelaat te word, was nogmaals onsuksesvol.
En laastens is daar nuus oor Skai Arabians se sewe jaar oue merrie Skai Rida wat die Wêreld Arabierperd-organisasie se trofee gewen het as die beste senior merrie in Afrika.