Nuus 11:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Basiese Onderwysdepartement appelleer teen die verbod op die publikasie van matriekuitslae
# Gesamentlike operasies lei tot arrestasies in ‘n Gautengse kinderpornografiesaak
# En, tennis: Novak Djokovic bedink hom dalk oor sy voorneme om uit te tree
# Die Departement van Basiese Onderwys het ‘n aansoek ingedien by die Hooggeregshof om die Inligtingsreguleerder se afdwingingskennisgewing nietig te verklaar wat die publikasie van matriekuitslae in koerante verbied. Die woordvoerder van die departement Elijah Mhlanga voer aan die huidige formaat, wat net eksamennommers toon, voldoen aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting en vorige hofbevele:
AfriForum sê intussen hy is baie ingenome dat die 2024-matriekuitslae in die media gepubliseer sal word, na ‘n hofuitspraak wat verseker dat hierdie gebruik voortgaan. AfriForum-woordvoerder, Alana Bailey, beklemtoon die waarde van deursigtigheid in openbare belang en wys op vorige regsoorwinnings vir die behoud van die tradisie, tot voordeel van matrikulante landwyd:
# Samewerking tussen die polisie, die Amerikaanse Federale Speurdiens en die land se Homeland Security het gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes in Gauteng in verband met aanklagte wat verband hou met kinderpornografie. Die 49-jarige man en ‘n voormalige onderwyser word van ernstige oortredings aangekla insluitend seksuele voorbereiding. Owerhede het beslag gelê op elektroniese toestelle wat met die misdade verband hou. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê albei verdagtes sal môre in die Landdroshof in Pretoria verskyn:
# Tennis: Dit wil voorkom asof Novak Djokovic in 2025 in meer toernooie wil speel nadat hy homself skynbaar bedink het om voortaan net deeltyds tennis te speel. Djokovic het dit duidelik gemaak dat hy motivering gekort het om vir die grootste deel van 2024 in meer toernooie as net die Grand Slam-toernooie te speel. Onverwagse nederlae op die ATP-toer het bewys fokus ontbreek by hom. Hy het verskeie toernooie misgeloop waaraan hy na verwagting sou deelneem en sy seisoen het geëindig toe hy hom weens ‘n besering aan die ATP-eindtoernooi onttrek het.
# Ten slotte: Die Internasionale Kindernoodfonds van die VN sê 80-persent van kinders onder vyf is die afgelope vyf jaar wêreldwyd geregistreer. Maar 150-miljoen kinders bly egter ongeregistreer, met meer as die helfte van hulle in Afrika Suid van die Sahara. Die uitvoerende direkteur Catherine Russell lig geboorteregistrasie se rol uit in regsbeskerming en toegang tot noodsaaklike dienste. Russell prys suksesstories soos Botswana se universele registrasie en die Ivoorkus wat 90-persent oorskry het. Versperrings soos hoë koste, diskriminasie en swak politieke wil duur egter voort, wat toekomstige vordering bedreig, veral in sub-Sahara Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….