Nuus 09:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma vra vir verkiesingshervormings en veroordeel die ANC-DA-alliansie
# Turkye is gereed om militêre opleiding aan Sirië te verskaf indien die nuwe administrasie dit versoek
# En, krieket: ‘n Proteas Vroue-bouler blink uit teen Engeland op die eerste dag van die vyfdag-toets
# Die president van die MK-party, Jacob Zuma, vra sy ondersteuners om aan te dring op verkiesingshervormings voor die plaaslike verkiesing in 2026 en beweer daar was stemknoeiery met die nasionale en provinsiale verkiesings in Mei. Zuma vra vir eenheid en billikheid in regering. Die adjunkpresident van die party, John Hlophe, het by die vieringe van die party eerste bestaansjaar in die Moses Madiba-stadion in Durban gewaarsku teen interne verdeeldheid en het die ANC-DA-regering van nasionale eenheid as ‘n onheilige alliansie beskryf:
# Die vertroulike PwC-verslag oor Steinhoff se ineenstorting in 2017 sal dié week aan mediamaatskappye oorhandig word na ‘n opdrag van die Appèlhof. Die verslag is aanvanklik weerhou en lê die boekhou-onreëlmatighede deur die bestuurders van Steinhoff bloot, wat wins en bates laat toeneem het deur denkbeeldige transaksies. Ibex, wat voorheen Steinhoff was, sê die mense wat geraak word is ingelig oor die onthulling, onder wie voormalige werknemers en sakevennote. Die maatskappy beklemtoon sy regsverpligting om aan die hofbevel te voldoen.
# Rand Water het die volle pompkapasiteit herstel by die Zwartkopjes-pompstasie, tot voordeel van gebiede in Johannesburg soos Parktown, Berea en Orlando-Oos. Onderhoudswerk duur egter tot vandag voort by Eikenhof, wat Soweto, Randburg en dele van sentraal-Johannesburg raak. Die woordvoerder van Rand Water Makenosi Maroo sê noodtenkwaens bly aktief by kritieke persele. Sy sê die volle herwinning van die waterstelsels kan tot 14 dae neem:
# Die nuwe administrasie in Sirië moet die geleentheid gegun word om te regeer na hulle opbouende uitsprake. Dit was die boodskap van die Turkse minister van Verdediging, Yasar Guler. Volgens hom is Turkye gereed om militêre opleiding te verskaf indien dit versoek word. Turkye is ‘n lid van NAVO en het die Siriese rebelle gesteun wat president Bashar al-Assad verlede naweek omvergewerp en daarmee ʼn burgeroorlog van 13 jaar beëindig het. Turkye het sy ambassade in Damaskus Saterdag heropen, twee dae nadat sy intelligensiehoof die Siriese hoofstad besoek het.
# Ten slotte, krieket: Die linkerhandse draaibouler van die Proteas Vroue, Nonkululeko Mlaba, het gister uitgeblink deur vier paaltjies plat te trek met Engeland op 395 vir nege, beurt gesluit verklaar, op die eerste dag van die eenmalige toets teen Suid-Afrika op die Mangaung-ovaal in Bloemfontein. Die oornagtelling van die Proteas was 17 sonder verlies met kaptein Laura Wolvaardt en aanvangsvennoot, Anneke Bosch, wat vandag voortkolf, ʼn agterstand van 378 op die eerste beurt. Vir die besoekers het Nat Sciver-Bunt die vinnigste honderdtal nog in vrouekrieket van net 96 balle aangeteken en was voor nuweling Maia Bouchier, wat haar eerste honderdtal behaal het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….