Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Munisipaliteite wat benadeel is deur die VBS-sage gaan ‘n tweede likwidasiedividend ontvang
# Die onderburgemeester van Nelson Mandelabaai word geskors na sy hofverskyning
# En krieket: ‘n Reeksoorwinning wink vanaand vir die Proteas in Centurion
# Die likwidateur Anoosh Rooplal het bevestig munisipaliteite wat deur die ineenstorting van VBS Mutual Bank benadeel is, sal ‘n uitbetaling van ʼn dividend ontvang. Altesaam 291-miljoen-rand van die tweede likwidasie-dividend van 458-miljoen-rand gaan aan munisipaliteite. Die dividende word aan altesaam vyftien munisipaliteite in Noordwes, Gauteng en Limpopo uitbetaal wat saam bykans 1,5-miljard-rand met die ineenstorting verloor het. MoneyWeb berig die uitbetaling verteenwoordig 20-persent van die eise van gesamentlike krediteure. Rooplal sê hulle probeer steeds bates herwin en daar kan moontlik verdere dividende wees.
# Die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, het bevestig onderburgemeester Gary van Niekerk is geskors na sy verskyning in die Handelsmisdaadhof op aanklagte van kubermisdaad en finansiële wangedrag. Lobishe het die raad se besluit aangekondig nadat uitgebreide beraadslagings gehou is. Sy sê Van Niekerk sal ‘n gewone raadslid bly terwyl die saak na die Oos-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, verwys is vir verdere optrede:
# Gauteng se Verkeersdepartement doen ʼn beroep op padgebruikers om padveiligheid voorop te stel omdat swaar verkeer oor die langnaweek en in die feestyd sal voorkom. Roetes soos die N1, N4 en N3 kan groot verkeersdruk verwag. Woordvoerder Sello Maremane waarsku mense om versigtig te wees en verkeersreëls na te kom en sê wetstoepassers sal padblokkades hou en dronkbestuurders aankeer:
# Krieket: ‘n Reeksoorwinning wink vir die Proteas in vanaand se tweede T20 teen Pakistan op SuperSportpark in Centurion. Suid-Afrika het Dinsdag se opwindende eerste kragmeting in Durban met ‘n skamele 11 lopies gewen. Die derde en laaste wedstryd word môre in die Bullring op die Wanderers in Johannesburg gespeel, waar groot tellings aan die orde van die dag is. Daarna pak die twee lande mekaar in eendagwedstryde in die Paarl, Kaapstad en Johannesburg, gevolg deur toetse in Centurion en op Nuweland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-354-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het prinses Masalanabo Modjadji amptelik erken as die koningin van die Balobedu-koninginskap in Limpopo. Die 18-jarige koningin Modjadji die Sewende beklee die enigste wettig-erkende koninginskap in Suid-Afrika. Die Presidensie sê haar erkenning ingevolge die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap is ‘n betekenisvolle oomblik vir die Balobedu-nasie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….