Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Trevor Manuel gaan die G20 se paneel van Afrika-deskundiges lei
# Eskom se grasietydperk vir nie-betalende verbruikers eindig vandag
# En, tennis: Agt plaaslike spelers en Stan Wawrinka is promotorskeuses vir die Australiese Ope
# Die gewese minister van Finansies, Trevor Manuel, is voorsitter van die G20 se paneel van Afrika-kenners tydens Suid-Afrika se G20-presidentskap. Die paneel sal leiers raad gee oor Afrika se maatskaplike en ekonomiese probleme, veral die toenemende skuldkrisis. Manuel se rol pas by sy onlangse aanstelling op ‘n kennersgroep van die Verenigde Nasies wat optrede oor ontwikkelende lande se skuldkrisis stimuleer. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê skuld kan volhoubaar bestuur word met maatreëls wat lande ondersteun om die regte beleggings te doen en toepaslike hervormings in te stel.
# Die DA sê hy is ontsteld oor die nuus dat die toestel wat naby die Sentrum vir Menseslagting en die Joodse Volksmoord in die Tuine, Kaapstad, gevind is, wel ‘n ploftoestel was. Dit is verlede Vrydag in die parkeerterrein gevind. Emma Louise Powell van die DA sê die mislukte aanval het vermoedelik Suid-Afrikaanse burgers en hul plek van aanbidding geteiken op grond van hul godsdiens. Sy sê burgers het ‘n grondwetlike reg op godsdiensvryheid, sonder intimidasie, teistering of geweld:
# Eskom se grasietydperk vir nie-betalende kragverbruikers om rekeninge op datum te bring eindig vandag. Kliënte moet boetes vir peutery betaal en kan probleme met meters sonder bykomende koste regstel. Eskom sal hierna oudits verskerp en boetes van tot 12-duisend-rand uitreik. Kliënte word versoek om stiptelik op te tree om boetes en diensonderbrekings te vermy. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, beklemtoon daar is hulp met betalings beskikbaar en huishoudings wat kwalifiseer kan by plaaslike munisipaliteite aansoek doen vir die toelaag vir gratis basiese elektrisiteit:
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen Stan Wawrinka is ‘n promotorskeuse vir die Australiese Ope in Melbourne. Die 39-jarige Switser het die toernooi in 2014 gewen, maar voortdurende beserings het daarna verhoed dat hy ver kon vorder. Agt Australiërs is ook promotorskeuses, insluitend Daria Saville en Ajla Tomljanovic. Die Chinese veteraan Zhang Shuai en Kasidit Samrej van Thailand is vroeër op dieselfde manier in die hooftrekking ingesluit nadat hulle die uitspeelwedstryde van die Asië-Stille Oseaan-toernooi gewen het. Die eerste Grand Slam van die jaar begin op 12 Januarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-119-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-671-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Die musiekblyspel Addams Family open môre in die Homecoming-sentrum, voorheen The Fugard, in Kaapstad. Die produksie handel oor onwaarskynlike verbintenisse. Die donker, geheimsinnige Wednesday Addams raak verlief op die seun van ‘n gewone gesin, Lucas Beineke. Wanneer die twee se wêrelde bots, word die temas van liefde, kwesbaarheid en belangrikheid van gesinsbande ontgin. Die regisseur is Garth Tavares en die hoofrolspelers Samantha Peo en Tiaan Rautenbach.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….