Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Trevor Manuel gaan die G20 se paneel van Afrika-deskundiges lei
# Ramaphosa word gekritiseer oor die vertraging met die aanstelling van ‘n adjunkhoofregter
# En, tennis: Die Amerikaanse Ope se toernooi-direkteur verlaat die rol na volgende jaar se toernooi
# Die gewese minister van Finansies, Trevor Manuel, is voorsitter van die G20 se paneel van Afrika-kenners tydens Suid-Afrika se G20-presidentskap. Die paneel sal leiers raad gee oor Afrika se maatskaplike en ekonomiese probleme, veral die toenemende skuldkrisis. Manuel se rol pas by sy onlangse aanstelling op ‘n kennersgroep van die Verenigde Nasies wat optrede oor ontwikkelende lande se skuldkrisis stimuleer. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê skuld kan volhoubaar bestuur word met maatreëls wat lande ondersteun om die regte beleggings te doen en toepaslike hervormings in te stel.
# President Cyril Ramaphosa word gekritiseer oor die vertraging met die aanstelling van ‘n permanente adjunkhoofregter. Die pos is reeds vyf maande vakant. Judges Matter se woordvoerder, Mbekezeli Benjamin, sê die aanstelling is dringend weens die adjunkhoofregter se belangrike rol om regsetiek te beskerm en hoofregter Mandisa Maya se hervormingsvisie te ondersteun. Hy sê die vertraging wek kommer oor bestendigheid op die regbank.
# ActionSA sê hy is gekant teen die moontlikheid dat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing verdere permitte aan die Stad Kaapstad toestaan om riool in die see te stort. Die metro stort tans daagliks meer as 30-miljoen-liter onbehandelde riool in die see aan die Atlantiese kus. Sam Mgobozi van ActionSA sê die metro het herhaaldelik versuim om by die daaglikse perk te hou waarvoor sy bestaande stortingspermitte voorsiening maak:
# Die GOOD-party sê berigte dat die geslagsgeweld-noodlyn nie meer beskikbaar is nie, is ʼn groot mislukking deur die regering. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling bestuur die hulplyn en dit word uit die Geslagsgeweld-bevelsentrum bedryf. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê slagoffers van geslagsgeweld sal benadeel word indien dit nie beskikbaar is nie:
# Tennis: Volgende jaar se Amerikaanse Ope sal die laaste wees vir toernooi-direkteur Stacey Allaster, wat daarna ‘n strategiese raadplegingsposisie by die Amerikaanse Tennisvereniging sal inneem. Sy het agt jaar gelede aangesluit as uitvoerende hoof van beroepstennis en in 2018 die eerste vroulike toernooi-direkteur geword. Die gewese kampioen Billie Jean King het Allaster geloof vir haar bevordering van gelykheid en dat sy onverpoosd gewerk het om standaarde te verhoog. Allaster sal deel wees van ‘n paneel wat haar opvolger sal aanwys na volgende jaar se Amerikaanse Ope.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-61-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-683-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….