Nuus 09:00
BULLETIN 13 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen weer ’n beroep vir die uitbreiding van BTW-vrye voedselitems
# Die Matjhabeng-burgemeester word gevonnis op aanklagte van aanranding en crimen injuria
# En die burgemeester van New York beloof om gewelddadige immigrante te deporteer
# Die DA sê hy is optimisties ná die jongste syfers van die Verbruikersprysindeks wat ‘n beduidende daling in voedselprysinflasie toon tot die laagste vlak in 14 jaar. Die jaarlikse inflasie van kosprodukte en nie-alkoholiese drankies het skerp teruggesak tot 2,3-persent in November, van 3,6-persent in Oktober – die laagste koers vir dié kategorie sedert Desember 2010 toe dit 1,6-persent was. Wendy Alexander van die DA sê hulle versoek weer dat die BTW-vrye kosmandjie uitgebrei word.
# Die Staatsdienskommissie sê hy verwelkom die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, se versoek dat bestuursprobleme by die Staatsagentskap vir Inligtingstegnologie ondersoek word. Die agentskap se toenemende probleme sluit in kommer oor die bestuur, onregmatige verkrygingspraktyke, bedryfsondoeltreffendheid en ‘n kommerwekkende verswakking in dienslewering. Die kommissie sê die minister se versoek stem ooreen met sy voortgesette pogings om aanspreeklikheid, deursigtigheid en doeltreffendheid in die staatsdiens te bevorder.
# Die burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat, Thanduxolo Khalipa, is in Odendaalsrus se landdroshof vir aanranding en crimen injuria gevonnis. Hy is gevonnis tot drie maande tronkstraf of ‘n boete van vyfduisend-rand vir aanranding. Op die twee klagte van crimen injuria is hy gevonnis tot een maand tronkstraf op elk van die klagte, of ‘n boete van eenduisend-rand elk. Mojalefa Senokoatsane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê Khalipha is ook ongeskik verklaar vir die besit van ‘n vuurwapen.
# New York se burgemeester, Eric Adams, sê hy sal saam met verkose president Donald Trump se administrasie werk om maniere te vind om gewelddadige misdadigers uit die land te sit. Hy het met Tom Homan, die inkomende Amerikaanse grens-tsaar, vergader. Die stad het sedert 2022 en 2023 ʼn instroming van migrante beleef en Adams het die federale regering vir fondse genader. Hy sê daar is groter samewerking nodig tussen federale en plaaslike wetstoepassers:
# Sokker: Manchester United het Viktoria Plzen in hul Europese Liga-wedstryd met twee-een geklop. Twee doele deur Rasmus Hojlund het ‘n oorwinning vir Ruben Amorim se span besorg en hulle daarmee tot die agtste plek laat klim om outomaties vir die laaste 16 te kwalifiseer. Chelsea is steeds onoorwonne in die kompetisie nadat hulle Astana met 3-0 geklop het. Tottenham Hotspur het een elk gelykop gespeel teen Rangers, terwyl Roma, Lazio en Porto ook hul wedstryde gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-856-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-686-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….