Nuus 07:00
BULLETIN 13 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die land versterk sy handels- en beleggingsbande met Angola
# Die regering bepleit ‘n verenigde poging om feestyd-tragedies te voorkom
# En ‘n man is ses lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op sy familielede
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika wil seker maak ekonomiese ontwikkelingsraamwerke op die vasteland, soos die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, is ‘n sukses. Hy het gister die eerste Suid-Afrika-Angola-sakeforum in Pretoria toegespreek. Suid-Afrika se uitvoere na Angola het sedert 2019 met sowat elf-persent gegroei. Ramaphosa sê die land wil sy nywerheidsbasis versterk, sy infrastruktuur-netwerk moderniseer en logistieke en voorsieningsketting-verbindings met die res van die vasteland uitbrei:
# Die regering doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om gesamentlik waaksaam te wees en ongelukke en misdaad gedurende die feestyd te voorkom. Padgebruikers word te midde van die besige paaie en die feesvierings, versoek om verkeersreëls na te kom, roekelose bestuur te vermy en versigtig te wees vir swendelaars wat vakansiegangers teiken. Ouers word aangeraai om hul kinders fyn dop te hou in openbare ruimtes. Wetstoepassingsagentskappe sal ten volle ontplooi wees om veiligheid op die paaie en in gemeenskappe te verseker.
# Vertex Pharmaceuticals het ‘n ooreenkoms bereik met die Mededingingskommissie en ‘n prysgeskil oor sy behandeling van sistiese fibrose opgelos. Die onderneming is beskuldig van buitensporige pryse vir sy lewensreddende middel, Trikafta. Kragtens die ooreenkoms sal Vertex die prys van Trikafta in Suid-Afrika verlaag en dit meer toeganklik vir pasiënte maak. Finansiële hulp sal ook beskikbaar wees vir kwalifiserende pasiënte. Die kommissie het sy ondersoek afgehandel, maar die reg voorbehou om verdere stappe te doen indien nodig.
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het Sthembiso Mthimkhulu ses lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op ses van sy familielede in Eshowe in 2021. Natasha Ramkisson-Kara van die Nasionale Vervolgingsgesag in KwaZulu-Natal sê hy het geglo sy oom bedryf heksery en het op naasbestaandes losgebrand. Ses mense is dood, waaronder twee kinders. Ramkisson-Kara sê die vonnisse is gevel na kragtige verklarings deur getuies oor hoe die moorde hulle lewens geraak het:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram brei sy programme uit om 2,8-miljoen ontheemde mense in Sirië wat voedseltekorte beleef, te help. Dit volg nadat president Bashar al-Assad se regering omvergewerp is. Die organisasie sê die onlangse vyandighede het honderde duisende mense in die land ontwortel wat die reeds bestaande voedselprobleem vererger. Die organisasie se direkteur in Sirië, Kenn Crossley, sê handelsroetes is tans onder druk, kospryse styg skerp en die Siriese geldeenheid verswak.
# Gholf: Andy Sullivan van Engeland het ʼn agt-onder-baansyfer-64 behaal en loop met een hou voor ná die eerste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap in Mpumalanga. Drie spelers is met sewe onder gelykop tweede: sy landgenoot Alex Fitzpatrick, die Suid-Afrikaner Casey Jarvis en die Sweed, Marcus Kinhult. Sullivan, wat sy eerste twee DP World Tour-seges in die land in 2015 behaal het, sê hy voel altyd gemaklik om in Suid-Afrika te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-504-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-689-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….