Nuus 06:00
BULLETIN 13 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dit is D-dag vir voorleggings oor die omstrede klousules 4 en 5 van die BELA-wet
# Die laaste dag om spaza-winkels en klein ondernemings te registreer kom nader
# En die AA sê die moegheid van bestuurders en voertuiginstandhouding is belangrik
# Vandag is die sperdatum vir voorleggings oor twee omstrede klousules van die Wet op die Wysiging van Basiese Onderwyswette. President Cyril Ramaphosa het die wetgewing op 13 September onderteken, maar die instellingsdatum met drie maande uitgestel om raadpleging oor klousule vier en vyf moontlik te maak. Dit handel oor taal- en toelatingsbeleid. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sy moet seker maak die onderwysstelsel is gereed vir die BELA-wet:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê eienaars van spazawinkels en klein ondernemings moet teen volgende Dinsdag registreer. Hy het die misverstand opgeklaar oor president Ramaphosa se opdrag van 21 dae. Volgens Hlabisa is registrasie verpligtend vir spazawinkels en ondernemings wat voedsel hanteer, en diegene wat nie geregistreer is nie kan gesluit word. ’n Landwye aanlyn platform vir registrasie word volgende jaar bekend gestel:
# Die Automobiel-Assosiasie en die Padverkeersbestuurskorporasie beklemtoon bestuurders moet hul uitputtingsvlakke dophou en voertuigveiligheid handhaaf om padongelukke te verminder. Die ondernemings sê moegheid benadeel reaksietyd en besluitneming. Bestuurders word versoek om voldoende te rus, elke twee ure te stop en nagreise te vermy. Gereelde voertuigonderhoud, insluitend die nagaan van remme, bande en ligte, is noodsaaklik om meganiese foute te voorkom. Hulle doen ‘n beroep op alle padgebruikers om waaksaamheid en proaktiewe maatreëls eerste te stel.
# Die Departement Maatskaplike Ontwikkeling het die repatriasie van ‘n vyfjarige Suid-Afrikaanse meisie afgehandel wat in ‘n tronk in Mauritius gebore is. Die kind het emosioneel afskeid geneem van haar ma en die ander vroue in die Beau Bassin-tronk. Die ma is verhoorafwagtend vir beweerde dwelmsmokkelary. Bathembu Futshane van die departement sê dis die 25ste kind wat gerepatrieer is ingevolge Suid-Afrika se Kinderwet, wat kinders se welsyn en gesinsbande voorop stel:
# Krieket: Die 18-jarige Kwena Maphaka het sy oproep as nuweling tot die Proteas se eendagspan vir die komende reeks van drie wedstryde teen Pakistan verdien. Hy het vroeër vanjaar by die o.19-Wêreldbekertoernooi beïndruk nadat hy 21 paaltjies geneem het. Die snelbouler Kagiso Rabada keer vir die eerste keer sedert November verlede jaar terug na die eendag-groep. Die groep word ook versterk met die terugkeer van David Miller en Heinrich Klaasen, wat in Desember verlede jaar laas in hierdie formaat te sien was. Die reeks begin Dinsdag in die Paarl.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-13-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-680-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die benoemings vir die 12de Afrika Opkomende Rolprentmaker-toekennings is bekendgemaak en Baby Cele is benoem as beste vroulike byspeler vir Ukhumbuzile. Die toekennings, wat opkomende Suid-Afrikaanse talent vereer, word Saterdag in Durban uitgedeel. Die stigter, Andile Buwa, sê die klem val op verbeterde standaarde in die bedryf. Die geleentheid is die vertoonvenster vir gehalte-rolprente en die bevordering van plaaslike stories, met die tema, Ons is Konings en Koninginne en laat Ubuntu herleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….