Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen is oortuig samesprekings tussen Suid-Afrika en Angola sal landboubetrekkinge versterk
# Rugby: Die Bok-losskakel Handré Pollard is onseker oor sy toekoms by Leicester Tigers
# En die Suid-Afrikaanse fliek Old Righteous Blues weet binnekort of hy nog in die wedloop vir ’n Oscar is
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, is optimisties oor die versterking van betrekkinge tussen Suid-Afrika en Angola na sy ontmoeting met die Angolese president, João Lourenço, by die Uniegebou in Pretoria. Steenhuisen sê besprekings was toegespits op die uitbreiding van landbouhandel en die ondersteuning van kleinboere, en stappe word ontwikkel teen klimaatsverandering. Hy wys op die belangrikheid van samewerking op die vasteland vir volhoubare landbou en om ekonomiese groei reg oor Afrika te bevorder:
# Mediese beroepslui het voorstelle by president Cyril Ramaphosa ingedien waarin die Nasionale Gesondheidsversekering onuitvoerbaar genoem word. Die Universal Healthcare Access Coalition stel verpligte mediese skema-lidmaatskap voor vir hoë verdieners, ‘n staatsondersteunde skema vir mededinging met privaat keuses en onafhanklike hospitaalbestuur. Die koalisie stel bydraes van die privaat sektor met belastingbefondsing voor om billike gesondheidsorg te bewerkstellig. Kritici voer aan die NGV kan hulpbronne en beroepslui oorlaai, maar ‘n alternatiewe hervorming kan ‘n meer volhoubare pad na omvattende gesondheidsorg bied.
# Suid-Afrika het ‘n Versoek om Inligting uitgereik om die gereedheid van die bedryf te bepaal vir Onafhanklike Transmissieprojekte voor die bekendstelling van ‘n tender in 2025. Volgens ʼn gesamentlike aankondiging deur die Nasionale Tesourie en die ministerie van Elektrisiteit, moet inligting teen 28 Februarie voorgelê word. Die Versoek om Inligting is ingevolge beplanning om ‘n beleggingsagterstand van 390-miljard-rand aan te pak. Dit moet die betrokkenheid van die privaat sektor by die uitbreiding van kraglyne en transformators verbeter, ingevolge die Nasionale Transmissiemaatskappy Suid-Afrika se ontwikkelingsplan.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Handré Pollard sê sy kontrak verstryk binnekort, maar hy is steeds onseker oor sy toekoms by Leicester Tigers. Die 30-jarige Pollard het in 2022 by die Engelse klub aangesluit en 22 keer vir hulle uitgedraf, waarvan vier keer hierdie seisoen. Daar word bespiegel dat hy na Suntory Sungoliath in Japan kan skuif waar hy by sy Bok-spanmaat, Cheslin Kolbe, kan aansluit. Pollard het aan die BBC gesê hy hoop sy kontraksituasie word gou afgehandel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-351-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-710-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Rolprent- en Video-stigting sê die geweldige talent en skeppendheid van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is ongeëwenaard. Die top 11 benoemings vir die beste internasionale rolprent op die Oscars word Dinsdag aangekondig en die Suid-Afrikaanse fliek, Old Righteous Blues, staan ook ’n kans. Dit handel oor ’n jong man se reis om persoonlike beperkings te oorkom en bo die spoke van die verlede uit te styg om ’n verdeelde gemeenskap te verenig. Die kortlys van vyf flieks in die kategorie word op 17 Januarie bekendgemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….