Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die opgeblase kabinet-uitbreiding kos meer as ‘n miljard-rand
# Sokker: 2030 se Wêreldbekertoernooi word in ses lande op drie vastelande gespeel
# En, ‘n getekende foto van Assad en koningin Elizabeth is onder die aandenkings in die skattekamer in sy paleis
# ActionSA het sy beroep herhaal vir ‘n lenige, doeltreffende kabinet van hoogstens 20 ministers, met alle adjunkministerposisies wat geskrap word. Die party het onthul dat die land se opgeblase kabinetsuitbreiding belastingbetalers jaarliks sal belas met ‘n bykomende 239-miljoen-rand, en gesamentlik meer as ‘n miljard-rand vir die huidige termyn. Die totstandkoming van die regering van nasionale eenheid het die kabinet van 30 tot 32 ministers laat groei en van 36 tot 43 adjunkte. Athol Trollip van ActionSA sê dit is ‘n skokkende finansiële las op belastingbetalers:
# FNB voorspel inflasie sal in Desember naby aan drie-persent bly, hoofsaaklik as gevolg van stygende brandstofpryse. Voedselinflasie sal waarskynlik beheersd bly, maar hoër behuisingskoste en ander kerninflasie-faktore kan ‘n mate van druk byvoeg. Ten spyte hiervan, word verwag dat wesensinflasie eers laat in volgende jaar die drempel van vier-persent sal oorskry. ‘n Ekonoom van FNB, Koketso Mano, sê globale risiko’s en ‘n swakker rand kan inflasie beïnvloed, maar geleidelike rentekoersverlagings word steeds verwag:
# Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika het wysigings aan die Regulasies vir die Beëindiging van Oproepe van 2014 in die Staatskoerant gepubliseer, wat ‘n glyskaal oor drie jaar bepaal vir groothandel stemmarktariewe. Vanaf Julie volgende jaar moet toonaangewende operateurs vaste oproeptariewe verlaag van vyf sent tot een sent in 2027. Mobiele oproeptariewe sal in 2025 tot sewe sent daal en teen 2027 tot vier sent. Kleiner operateurs en nuwe toetreders tot die mark sal ook skedules met verminderde tariewe gebruik. Volgens Okosa sal die verandering mededinging en bekostigbaarheid bevorder.
# Sokker: 2030 se Wêreldbekertoernooi vir mans sal in ses lande op drie vastelande gespeel word. Die wêreldbeheerliggaam, Fifa, het die toernooi aan Marokko in Afrika en die Europese lande Spanje en Portugal toegeken. Sommige wedstryde word ook in Argentinië, Paraguay en Uruguay in Suid-Amerika gespeel ter herdenking van die eerste Wêreldbeker-toernooi op daardie vasteland 100-jaar gelede. Fifa het 2034 se toernooi aan Saoedi-Arabië toegeken terwyl die wêreldwye skouspel in 2026 in Kanada, Amerika en Mexiko plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-943-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-717-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte, rebellevegters het ‘n getekende foto van koningin Elizabeth die tweede en prins Philip uit die jaar 2002 saam met ander aandenkings gevind in die stampvol skattekamer van die uitgesette Siriese leier, Basjar al-Assad. Die foto is geneem twee jaar nadat Assad president geword het, en voordat hy ‘n uitgeworpene geword het oor die onderdrukking van die pro-demokratiese Arabiese Lente-verset in 2011 en die daaropvolgende burgeroorlog. ‘n Motorhuis vol luukse motors, onder meer ‘n skaars Ferrari ter waarde van sowat 68-miljoen-rand, is ook ontdek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….