Nuus 08:00
BULLETIN 12 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsdienskommissie gaan die Staatsinligtingstegnologie-agentskap ondersoek
# Suid-Afrika herdenk Wêrelddag vir Gesondheidsdekking
# En sokker: Saoedi-Arabië sal die 2034-Wêreldbeker vir Mans aanbied
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het die Staatsdienskommissie amptelik gevra om ‘n aantal kwessies by die Staatsagentskap vir Inligtingstegnologie te ondersoek. Die agentskap staar toenemend probleme in die gesig. Dit sluit bestuurskwessies, onregmatige verkryging, ondoeltreffende bedryfsaangeleenthede en ʼn kommerwekkende verswakking in dienslewering in. Malatsi sê indien die kwessies nie hanteer word nie, gaan dit die agentskap se missie en vermoë om waarde aan landsburgers te lewer, kniehalter.
# Die Nasionale Tesourie sê dit is dringend noodsaaklik om skuldherstrukturering te verbeter en om die likwiditeitsprobleme van ontwikkelende ekonomieë te hanteer. Op die eerste Desember het Suid-Afrika die presidentskap oorgeneem van die G20 groep van lande, wat bestaan uit baie van die wêreld se grootste ontwikkelende en ontwikkelde ekonomieë. Die direkteur-generaal van die Tesourie Duncan Pieterse het by die twee-daagse Gesamentlike Sherpa en Finansies-navolgingsvergadering in Johannesburg, gesê dringende, grootskaalse en volhoubare beleggingsdruk is nodig:
# Die Departement van Gesondheid sal vandag aansluit by die wêreldgemeenskap om Wêrelddag vir Gesondheidsdekking te herdenk en vordering met gesondheid vir almal te vier. Die tema is Health: It’s on the Government, en volg ná president Cyril Ramaphosa die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in Mei onderteken het. Sleutelbesprekings sal fokus op regeringsleierskap in gesondheidsdekking, opmetingstrategieë en die betrokkenheid van die burgerlike samelewing. Die Departement sal ook die Gesondheidsfasiliteit-vorderingsmatriks onthul, ‘n Wêreldgesondheidsorganisasie-hulpmiddel vir beleidsbesluite en gesondheidsbefondsingstelsels.
# Sokker: FIFA het bevestig die 2034-Wêreldbeker vir mans gaan in Saoedi-Arabië aangebied word. Die land word gekritiseer oor sy menseregteskendings, homoseksualiteit wat as misdaad beskou word, beperkings op vryheid van spraak en gebrek aan vroueregte. Die 2030-Wêreldbeker word gesamentlik deur Spanje, Portugal en Marokko aangebied. Drie wedstryde van die 2030-toernooi sal ook in Argentinië, Paraguay en Uruguay gespeel word om die kompetisie se 100-jarige bestaan te vier. Fifa-president, Gianni Infantino, sê sport kan ’n verdeelde wêreld verenig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-481-dollars-. Die prys van goud is twee-duisend-706-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-58-sent
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….