Nuus 07:00
BULLETIN 12 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sê hy verlaat nie die alliansie nie
# Die direkteur-generaal van Vervoer, James Mlawu, het bedank
# En krieket: Die Engelse vrouespan wen die eendagreeks teen Suid-Afrika
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê sy besluit om in 2026 onafhanklik aan die plaaslike verkiesing deel te neem, beteken nie hy verlaat die alliansie nie. Die SAKP, wat sedert die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 saam met die ANC gewerk het, het toenemend krities geraak oor die ANC se prestasie in die regering. Die SAKP se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê hy kan nie sy besluit verander nie:
# Die mynwerkersvakbond NUM het ‘n loongeskil met Exxaro verklaar nadat hulle nie kon ooreenkom oor ‘n meerjarige loonooreenkoms nie. Die vakbond eis ‘n verhoging van sewe-persent en ‘n een-jaar ooreenkoms, en verwerp Exxaro se aanbod van 6,5-persent oor ‘n tydperk van drie-jaar. Die ontevredenheid spruit uit voorwaardes wat nie vervul is nie, insluitend verhogings van bystandtoelaes. Die saak sal nou verskuif na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. NUM beplan dringende massavergaderings by die Grootgeluk- en Leeuwpan-myne om lede op hoogte van sake te hou.
# Die Departement van Vervoer se direkteur-generaal, advokaat James Mlawu, het bedank om ander belange na te streef. Hy het in November 2022 by die departement aangesluit. Mlawu sal die voorgeskrewe kennistydperk van drie maande tot 28 Februarie 2025 werk, wat ooreenstem met die Staatsdienswet se voorskrifte en die dienshandboek vir senior bestuur. Minister Barbara Creecy het Mlawu bedank vir sy diens en hom voorspoed toegewens vir die toekoms.
# Die DA in Johannesburg kritiseer burgemeester Dada Morero se plan om sy kantoor na die brandbeskadigde Usindiso-gebou te verskuif waar meer as 70 mense dood is. Die party beskryf dit as geldmors, veral terwyl die stad te kampe het met ‘n infrastruktuur-agterstand van 27-miljard-rand. Woordvoerder Belinda Kayser-Echeozonjoku beloof om die stap teen te staan en eis dat stadsbronne eerder aangewend word vir verbeterde dienslewering en nie aan die burgemeester se duur beeldpoets-projek nie:
# Ambassadeurs van die Europese Unie het dié blok lande se 15de sanksie-pakket teen Rusland goedgekeur in reaksie op sy voortgesette militêre aggressie teen Oekraïne. Die nuwe pakket voeg meer individue en instellings by die bestaande sanksielys. Dit beperk ook die aktiwiteite van bykomende vaartuie van derde state wat bydra, of aksies en beleide navolg wat Rusland se optrede teen Oekraïne ondersteun. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê die EU en sy G7-vennote wil skuiwergate toemaak en globale netwerke teiken wat Rusland se oorlogspogings moontlik maak.
# Krieket: Engeland se vrouespan het ‘n twee-een-reeksoorwinning oor Suid-Afrika behaal nadat hulle die derde en laaste eendagwedstryd in Potchefstroom volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met ses paaltjies gewen het. Kaptein Laura Wolvaardt se 61 het bygedra tot die Proteas se 233 vir agt. Ná ʼn reën-onderbreking is die teiken aangepas tot 152 lopies in 23 boulbeurte. Tammy Beaumont en Amy Jones het ʼn onoorwonne 90 lopies op die vyfde paaltjie aangeteken en Engeland se oorwinning verseker. Beaumont sê dit was ʼn goeie kolf-blad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-718-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-710-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….