Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof uitbreiding van landelike infrastruktuur met 288 nuwe brûe teen 2026
# Motorsport: Die 43-jarige Fernando Alonso droom steeds van ‘n derde Formule Een-wêreldtitel
# En Dricus du Plessis en Tyla was vanjaar onder die gewildste Google-soektogte vir Suid-Afrikaners
# President Cyril Ramaphosa het hom daartoe verbind om landelike infrastruktuur uit te brei met die bou van 288 nuwe brûe teen 2026. Die projek sal toegang en veiligheid in landelike gemeenskappe verbeter en meer as 17-duisend werksgeleenthede en 510 opleidingsgeleenthede skep. Ramaphosa het in sy hoofrede met die bekendstelling van die program in KwaMhlanga, Mpumalanga, gesê daar is ‘n begroting van 3,8-miljard-rand en die brûe sal opgerig word met materiaal wat plaaslik bekom word, wat die ekonomie sal baat:
# Die uitvoerende hoof van die Padverkeeroortredingsagentskap, Matsemela Moloi, waarsku motoriste 15 strafpunte kan tot die opskorting van ‘n rybewys lei. Die agentskap beplan om oor ‘n paar maande met die strafpunt-stelsel te begin. Moloi het aan Newzroom Afrika gesê oortredings op die Nasionale Oortredingsregister kan na drie opskortings tot die kansellasie van ʼn rybewys lei:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie vra groter kindertoelaes en uitgebreide skoolvoedingsprogramme om wanvoeding teen te werk. Een-duisend-500 kinders is die afgelope twee jaar in Suid-Afrika dood aan ernstige wanvoeding. Die meeste sterftes is in die Oos-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng aangemeld. Die kommissie se sekretaris, Jonas Sibanyoni, sê die regering moet skoolvoedingsprogramme na naweke ook uitbrei.
# Motorsport: Die veteraan Spaanse Formule Een-renjaer Fernando Alonso sê hy droom steeds van ‘n derde wêreldtitel. Die 43-jarige het sy twee titels in 2005 en 2006 ingepalm. Die bestuurder van Aston Martin voorspel dat die volgende seisoen uiters moeilik gaan wees, en meen dat sy enigste kans waarskynlik in 2026 sal wees. Alonso was vanjaar negende in die bestuurderskampioenskap. Hy sê die sport is vir dromers en met die aanstelling van Adrian Newey, beskou as die beste ontwerper in F1-geskiedenis, is enigiets moontlik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-615-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-702-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Google se Jaar se Soektogte vir 2024 onthul Suid-Afrikaners se sterk belangstelling in aktuele sake, vermaak, sport en nuus oor bekende persoonlikhede. Volgens News24 was Dricus du Plessis die gewildste onder sportlui terwyl Tyla die meeste navrae oor musiek gehad het. Die Verkiesingskommissie was die gewildste nuusgebeurtenis tydens die algemene verkiesing, gevolg deur die tweepotstelsel en die Amerikaanse verkiesing. Ander gewilde onderwerpe sluit in die vermiste Joslin Smith, die dood van die akteur Mpho Sebeng, en die Afrikabeker-sokkertoernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….