Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gesinne vra Ekwatoriaal-Guinee om die aangehoude Suid-Afrikaanse mans voor Kersfees vry te laat
# Rugby: Die Bokslot Salmaan Moerat keer terug vir die Stormers na ‘n besering
# En, minder as 25-persent van tropiese reënwoude kan bedreigde spesies beskerm
# Die gesinne van die Suid-Afrikaanse ingenieurs Frik Potgieter en Peter Huxham pleit by die regering van Ekwatoriaal-Guinee om hulle voor Kersfees vry te laat. Die Verenigde Nasies beskryf hulle aanhouding as arbitrêr en onwettig, terwyl gesinne smeek om deernis aangesien hul vrylating hierdie feestyd hoop en genesing sal bring. Woordvoerder Francois Nigrini vertrou hulle sal hierdie Kersfees weer bymekaar wees na twee jaar se skeiding:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het die behoefte aan groter beleggings in kampusgebaseerde studenteverblyf beklemtoon. Die departement bewillig jaarliks miljarde-rand aan privaat behuising vir studente, hoofsaaklik deur middel van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die minister het as deel van hierdie projek ‘n nuutgeboude verblyf met 200 beddens ingewy op die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se kampus in eMalahleni, Mpumalanga:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut het bevestig ‘n 62-jarige branderplankryer het verdrink in die Strand in Kaapstad, wat die vierde verdrinking binne vier dae langs die kus is. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê die man is op die toneel dood verklaar ondanks uitgebreide pogings om hom te red. Die ander verdrinkings was nog een in Kaapstad, en in Stilbaai en Oos-Londen. Die owerhede bepleit versigtigheid op strande terwyl ondersoeke na die voorvalle voortduur.
# Rugby: Die Springbokslot Salmaan Moerat kan moontlik met sy terugkeer na ‘n besering onmiddellik in die Stormers se wedstrydgroep ingesluit word vir die naweek se Kampioenebekerwedstryd teen Harlequins in Londen. Hy het vroeg in September sy knie seergemaak. Moerat, wat die Bokke by geleentheid aanvoer, het saam met die span na Engeland vertrek. Die Bokke Manie Libbok en Ben-Jason Dixon moes agterbly nadat hulle verlede naweek harsingskudding opgedoen het teen Toulon. Verdedigingsafrigter Norman Laker beskryf Moerat as ʼn goeie leier wat baie vir die span beteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-424-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-696-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Navorsing toon minder as 25-persent van die wêreld se oorblywende reënwoude kan bedreigde spesies beskerm. Die studie onder leiding van die Universiteit van Noord-Brits-Columbië het reënwoud-integriteit vir meer as 16-duisend spesies soogdiere, voëls, reptiele en amfibieë nagevors. Die bevindings wat in Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is, toon slegs agt-persent van bedreigde spesies se natuurlike omgewings in reënwoude het ʼn hoë integriteit. Die hoofnavorser, Rajeev Pillay, sê daar is ʼn dringende behoefte aan bewaringstrategieë wat op woude se gehalte fokus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….