Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Desember 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan diie beurt: Nieu-Seeland gaan op ses September volgende jaar die wêreldkampioen, Suid-Afrika, op Edenpark verwelkom. Dit sal die eerste keer sedert 2013 wees dat die All Blacks met die Springbokke kragte meet in Auckland. Suid-Afrika het Nieu-Seeland in hulle laaste vier toetse geklop en gaan probeer om ‘n einde te maak aan die Kiwi’s se 50 agtereenvolgende toetsoorwinnings op Edenpark. Scott Robertson se span begin sy 2025-veldtog met drie tuistoetse teen Frankryk in Julie.
Intussen gaan die Springbokke Manie Libbok en Ben-Jason Dixon die Stormers se volgende wedstryd misloop terwyl hulle herstel van harsingskudding wat hulle in die naweek se Kampioenebeker-nederlaag teen Toulon in Gqeberha opgedoen het. Keke Morabe gaan lank uit wees weens ‘n gebreekte been, en is gister geopereer. Die unie sê die Bokke Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Deon Fourie en Sacha Feinberg-Mngomezulu, sowel as Sti Sithole, sal hopelik voor die einde van die maand terugkeer, maar die ander Bokke, Steven Kitshoff, Evan Roos en Damian Willemse, sal langer buite aksie wees.
# Nou krieket: Suid-Afrika en Pakistan speel vanaand in Durban in die eerste van drie T20’s. Heinrich Klaasen sal die Proteas aanvoer in die afwesigheid van Aiden Markram, wat ‘n blaaskans geniet saam met Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Tristan Stubbs, wat in die pas-afgelope toetsreeks teen Sri Lanka gespeel het. Die tweede wedstryd vind Vrydag in Centurion plaas en die laaste een die volgende dag in Johannesburg. Dit word gevolg deur drie eendagwedstryde en twee toetse.
Intussen kan die ervare Australiese snelbouler Josh Hazlewood terugkeer vir die derde toets teen Indië wat Saterdag in Brisbane begin. Hy het die tweede toets in Adelaide weens ‘n sy-besering misgeloop. Die Baggy Green het binne drie dae met tien lopies gewen om die reeks van vyf wedstryde gelykop te maak. Hazlewood is vervang deur Scott Boland, wat vyf paaltjies geneem het. Australië en Indië, saam met die voorloper op die punteleer, Suid-Afrika, is die enigste spanne wat nog die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap kan haal.
# Ons sluit af met sokker: Die Premierliga se skeidsregtersliggaam het vir David Coote afgedank. Hy is verlede maand geskors nadat ‘n video op sosiale media die ronde gedoen het waarin hy neerhalende opmerkings maak oor Liverpool se voormalige hoofafrigter, Jurgen Klopp. Op ʼn tweede video snuif Coote ʼn wit poeier tydens die Europese Kampioenskap vroeër vanjaar. Die liggaam sê ʼn deeglike ondersoek het bevind Coote het sy kontrak se bepalings oortree en kan nie langer ‘n skeidsregter in die liga wees nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….