Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n FNB-ekonoom voorspel twee-persent BBP-groei in 2025 en ’26
# Drie mense sterf, verskeie word gered en 150 onwettige mynwerkers is steeds vasgekeer in Sabie
# En, krieket: ‘n Oorwinning vir die Proteas in Gqeberha sal hul posisie in die Wêreldtoetskampioenskap verder versterk
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Thanda Sithole, verwag groei van twee-persent in Suid-Afrika se bruto binnelandse produk in 2025 en ’26, ten spyte van die swakker as verwagte 0.3-persent in die derde kwartaal van vanjaar. Sithole beklemtoon dat verbeterings in die beskikbaarheid van energie, bestendige logistieke netwerke en deurlopende strukturele hervormings die land se herstel in die langtermyn sal aanvuur. Alhoewel dit nou onwaarskynlik is dat groei vanjaar aan die aanvanklike vooruitskattings sal voldoen, bly die vooruitsigte positief, met sterker groei wat na 2027 verwag word, aangesien sleutelsektore bly verbeter.
Build One South Africa het die regering van nasionale eenheid intussen gekritiseer omdat hy nie daarin kon slaag om ekonomiese herstel aan te wakker nie. Die afname is aangevuur deur aansienlike verliese in sektore soos landbou, vervoer en handel, asook uitvoere wat met 3,7-persent gedaal het. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, voer aan die regering se versuim om die nodige hervormings deur te voer, het elf-miljoen mense werkloos en sukkelend gelaat.
# Ongeveer 150 onwettige mynwerkers is steeds vasgekeer in ‘n verlate myn in Sabie, Mpumalanga. Daar is volgens berigte drie dood en ses is reeds gered. Die situasie het gister na vore gekom, toe vier vermeende mynwerkers wat van die toneel gevlug het veiligheidspersoneel in kennis gestel het. Die polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli sê die mynwerkers, wat glo gedwing word om in gevaarlike toestande te werk, het kommer uitgespreek aangesien diegene wat verantwoordelik is vir die bedrywighede moontlik gewapen is:
# Die Wes-Kaapse regering sê hy is ten volle voorbereid op hierdie somer se veldbrandseisoen, met planne wat deur CapeNature en Ramprisikobestuur ingestel is. Lugondersteuning, brandbaanbestuur en vinnige opsporingstelsels is gereed om die verspreiding van brande tot die minimum te beperk. Volgens die DA-woordvoerder, Dave Bryant, is die provinsie daarop gefokus om gemeenskappe en natuurlike hulpbronne te beskerm:
# Krieket: ‘n Oorwinning vir die Proteas in die tweede toets teen Sri Lanka wat môre in Gqeberha begin, sal hulle posisie in die Wêreldtoetskampioenskap verder versterk. Suid-Afrika het opgeskuif na die tweede plek na Indië met die oorwinning met 233 lopies in die eerste toets in Durban. Indien hulle ook skoonskip maak in die komende twee toetse teen Pakistan, sal hulle vir die eindstryd kwalifiseer, ongeag van ander uitslae. Indië, Australië, Nieu-Seeland, Sri Lanka, Engeland en Pakistan kan ook nog kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-926-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-639-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….