Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die hofbevel oor die verwydering van die Johannesburgse stadsbestuurder
# AfriForum se blou- en groendruppel-verslag wys op kommer oor water in Suid-Afrika
# En, krieket: Heinrich Klaasen voer die Proteas aan in die T20’s teen Pakistan terwyl Aiden Markram ‘n blaaskans kry
# Die DA loof die beslissing van die Gautengse Hooggeregshof wat gelas het Johannesburg se stadsbestuurder, Floyd Brink, moet sy kantoor binne tien dae ontruim. Daar is bevind sy aanstelling was onreëlmatig. Die besluit volg op Brink se eie klagte omdat hy aanvanklik oor die hoof gesien is vir die permanente aanstelling. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA beklemtoon die aanstelling was onregmatig:
# Die Save South Africa-burgerlike beweging sê president Cyril Ramaphosa toon geen belangstelling om korrupsie en korruptes te bekamp nie. Tebogo Mashilompane van die beweging sê eerder as om die voormalige minister van Justisie, Thembi Simelane, heeltemal te verwyder, het die president besluit om haar met ‘n ander belangrike portefeulje, Menslike Nedersettings, te beloon. Hy sê Ramaphosa se optrede is steeds teleurstellend:
# AfriForum sê sy blou- en groendruppelverslag vir 2024 dui op kommerwekkende neigings in watergehalte in Suid-Afrika. Hoewel 87-persent van munisipale drinkwater as veilig beskou word, voldoen slegs 13-persent van behandelde rioolvuil aan minimum standaarde met afvoer. Die verslag onthul wydverspreide wanbestuur in water- en rioolbehandeling, met groot kommer oor besoedeling en hoër koste vir behandeling in die toekoms. AfriForum dring aan op dringende optrede om die krisis aan te pak, en waarsku swak munisipale prestasie kan tot onveilige drinkwater en omgewingskade lei.
# Duitsland het 5,2-miljard-rand aan Suid-Afrika beloof om te gebruik vir vaardigheidsontwikkeling en energie-oorgangsprojekte tot 2026. Die befondsing is aangekondig tydens tussenregerings-gesprekke in Berlyn en strook met die doelwitte van Suid-Afrika se G20-presidentskap. President Cyril Ramaphosa het beklemtoon die presidentskap sal klimaats-veerkragtigheid en billike energie-oorgang aanpak. Duitsland het sy steun vir klimaat-neutraliteit herbevestig en beide nasies beloof ook nouer samewerking voor die G20-beraad wat November volgende jaar in Johannesburg plaasvind.
# Krieket: Heinrich Klaasen sal die Proteas aanvoer in die drie T20’s teen Pakistan wat Dinsdag in Durban begin. Dit volg op die besluit om die gereelde witbalkaptein, Aiden Markram, nie te oorweeg nie, saam met Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Tristan Stubbs. Hulle is tans betrokke in die toetsreeks teen Sri Lanka en sal nie in die T20’s speel nie omdat die reekse so vinnig op mekaar volg. Die draaibouler Tabraiz Shamsi en die snelbouler Anrich Nortjé keer die eerste keer terug sedert die T20-Wêreldbekertoernooi in Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-490-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-644-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….