Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die EFF sê Ramaphosa se jongste kabinetskommeling is nutteloos
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se vlieëniers begin môre staak
# En, tennis: Carlos Alcaraz en Taylor Fritz is die eerstes om hulle deelname aan volgende jaar se Laverbeker-kompetisie te bevestig
# Die EFF sê president Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling is net nog ‘n nuttelose oefening wat niks sal bydra om die lyding van burgers te verlig nie. Die president het die minister van Justisie, Thembi Simelane, wat onder skoot is, verskuif na die Departement van Menslike Nedersettings. Sy ruil rolle om met Mmamoloko Kubayi te midde van toenemende bewerings oor haar lening van die VBS-bank. Die EFF sê die aanstelling van mense oor wie daar ‘n donker wolk hang, gaan nie oor dienslewering of goeie regering nie.
ActionSA verwelkom intussen die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, se ondersoek oor die klagte wat hy in Augustus teen Simelane ingedien het. Matthew George van ActionSA sê die party het reeds 100 dae terug vir president Cyril Ramaphosa gevra om die integriteit van Suid-Afrika se regstelsel te beskerm:
# Die vakverbond, Saftu, sê die land se ekonomie gaan nie verbeter voor die neo-liberale makro-ekonomiese beleide van die ANC-geleide regering verander nie. Dit volg nadat die land se kwartaallikse bruto binnelandse produk in die derde kwartaal met 0,3-persent teruggeval het teenoor die wins van die vorige kwartaal. Saftu se woordvoerder, Mogoshadi Maserumule, sê landbou het met 28,8-persent gedaal, wat sy tweede agtereenvolgende afname is:
# Die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het aangekondig hulle begin môre staak, voor die stormloop voor die Desember-vakansie. Dit volg nadat salarisonderhandelinge ‘n dooiepunt bereik het, met vlieëniers wat ‘n verhoging van 15,7-persent eis. Hulle het aanvanklik aangedring op 30-persent. Die werkgewer bied 8,46-persent aan. Die SAL se tussentydse uitvoerende hoof, John Lamola, sê die lugdiens is nie in ‘n finansieel bestendige posisie om aan die vlieëniers se eise gehoor te gee nie. Hy verseker passasiers hulle het gebeurlikheidsplanne gereed om ontwrigtings tot die minimum te beperk.
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Amerikaner Taylor Fritz is die eerste spelers om te bevestig hulle gaan volgende jaar aan die Laverbeker-kompetisie deelneem. Hulle het vanjaar teen mekaar gespeel in die beslissende enkelspel, wat Alcaraz gewen het om die kragmeting vir Span Europa te beklink. Fritz, wat vir Span Wêreld speel, hoop om sake om te keer wanneer die spankompetisie vir mans in September in die Amerikaanse stad San Francisco plaasvind. Andre Agassi neem dan by John McEnroe oor as Wêreld se spankaptein, en Yannick Noah volg Björn Borg op as Europa se kaptein.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-949-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….