Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Desember 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met krieket: Die Protea-vroue pak Engeland vanmiddag in Kimberley in die eerste van drie eendagwedstryde nadat die besoekers skoonskip gemaak het in die reeks van drie T20’s. Die volgende twee kragmetings neem die spanne Sondag na Durban en volgende Woensdag na Potchefstroom. Die vroue speel dan ‘n eenmalige toets in Bloemfontein vanaf die 15de van die maand. Engeland is tans tweede op die eendag-wêreldranglys na Australië, en die Proteas vierde na Indië.
# Motorsport is volgende aan die beurt: Formule Een se beheerliggaam, die FIA, beplan om reëls aan te pas om die maniere waarop sy leierskap aanspreeklik gehou word, te beperk. Die veranderinge beteken die president, Mohammed Ben Sulayem, en die senaat se president, Carmelo Sanz de Barros, sal alle klagtes oor etiek hanteer en nie die senaat self nie. Ben Sulayem is vroeër vanjaar beskuldig dat hy ingemeng het by die uitslag van verlede jaar se Saoedi-Arabiese Grand Prix. Hy het ook aan FIA-amptenare gesê hulle moenie Las Vegas se baan vir verlede jaar se wedren sertifiseer nie. Albei bewerings is verwerp.
Vroulike ondersteuners is intussen aan die voorpunt van ‘n skerp toename in steun vir Formule Een in die Midde-Ooste, volgens data deur Nielsen Sports. Vroue is die demografie wêreldwyd wat die vinnigste groei. Vier wedrenne vind jaarliks in die Golf-gebied plaas, insluitend komende naweek se laaste Grand Prix van die seisoen in Abu Dhabi. Die syfers toon vroulike ondersteuners se belangstelling in die sport het die afgelope jaar in Saoedi-Arabië met 11-persent gestyg met die grootste groei in die ouderdomsgroep 50 tot 69. Een-en-veertig persent van F1-aanhangers is vroue.
# ‘n Kykie na gholf: Die 15-malige major-kampioen Tiger Woods sê hy is onseker of hy binnekort weer mededingend sal kan speel. Die voormalige wêreld nommer een het sedert sy motorongeluk in Februarie 2021 net in elf toernooie afgeslaan en in drie van dié seisoen se vier majors nie die afsnypunt oorleef nie. Hy is in September geopereer om rugspasmas en pyn te verlig. Die 48-jarige Woods, wat dié week die Hero World-uitdaagtoernooi in die Bahamas aanbied, sê hy is nog nie skerp genoeg vir ‘n toernooi nie:
# Ons sluit af met tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Amerikaner Taylor Fritz is die eerste spelers om te bevestig hulle gaan volgende jaar aan die Laverbeker-kompetisie deelneem. Hulle het vanjaar teen mekaar gespeel in die beslissende enkelspel, wat Alcaraz gewen het om die kragmeting vir Span Europa te beklink. Fritz, wat vir Span Wêreld speel, hoop om sake om te keer wanneer die spankompetisie vir mans volgende jaar in die Amerikaanse stad San Francisco plaasvind. Andre Agassi neem dan by John McEnroe oor as Wêreld se spankaptein, en Yannick Noah volg Björn Borg op as Europa se kaptein.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….