Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAL se vlieëniers gaan staak voor die Desember-vakansie
# Gholf: Tiger Woods sê hy is nog nie gereed om in ‘n toernooi te speel nie
# En die Afrikaanse sanger Jan Bloukaas sterf aan breinkanker op 25
# Die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het aangekondig hulle begin môre staak, voor die stormloop voor die Desember-vakansie. Dit volg nadat salarisonderhandelinge ‘n dooiepunt bereik het, met vlieëniers wat ‘n verhoging van 15,7-persent eis. Hulle het aanvanklik aangedring op 30-persent. Die werkgewer bied 8,46-persent aan. Die SAL se tussentydse uitvoerende hoof, John Lamola, sê die lugdiens is nie in ‘n finansieel bestendige posisie om aan die vlieëniers se eise gehoor te gee nie. Hy verseker passasiers hulle het gebeurlikheidsplanne gereed om ontwrigtings tot die minimum te beperk.
# Die Nasionale Tesourie het die graderingsagentskap Moody’s se herbevestiging verwelkom van Suid-Afrika se Ba2-gradering en die behoud van die land se bestendige vooruitsig. Die agentskap sê dit onderstreep die land se sterkpunte, van kerninstellings soos die regbank en die sentrale bank, en sy sterk, diep finansiële sektor. Die Tesourie verwelkom ook Moody’s se erkenning dat die regering van nasionale eenheid stukturele hervorming sal najaag en sal werk aan groeibeperkings. Hy voeg by ekonomiese hervormings begin vrugte dra.
# Die DA in Gauteng eis ‘n dringende ondersoek na die jongste voorval van voedselvergiftiging wat dié week die lewe geëis het van ‘n leerder van die Laerskool Wilhelmina Hoskins in Riverlea, Johannesburg. Meer as 20 kinders in die provinsie is reeds dood aan vermeende voedselvergiftiging wat verbind word met spazawinkels. Sergio Isa dos Santos van die DA sê die gesondheidsamptenare van Johannesburg doen nie genoeg om voldoening deur die spazawinkels te verseker nie:
# Gholf: Die 15-malige major-kampioen Tiger Woods sê hy is onseker of hy binnekort weer mededingend sal kan speel. Die voormalige wêreld nommer een het sedert sy motorongeluk in Februarie 2021 net in elf toernooie afgeslaan en in drie van dié seisoen se vier majors nie die afsnypunt oorleef nie. Hy is in September geopereer om rugspasmas en pyn te verlig. Die 48-jarige Woods, wat dié week die Hero World-uitdaagtoernooi in die Bahamas aanbied, sê hy is nog nie skerp genoeg vir ‘n toernooi nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-716-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-639-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Die Afrikaanse sanger Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas, is gisteraand oorlede ná ‘n lang siekbed. Sy bestuur het in ‘n kort verklaring bevestig dat die kanker waaraan hy gely het die oorhand gekry het. Du Plessis het in die jongste tyd veral sukses gehad met sy liedjie Sterre Brand saam met Janie Bay wat reeds meer as twee-miljoen keer op Spotify gestroom is. Sy bestuur sê almal sal sy helder lag, liefde, vegkrag en omgee mis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….