Nuus 08:00
BULLETIN 4 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die herontplooiing van minister Simelane is oneerbiedig
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die haglike toestand van die Tembisa-hospitaal
# En Donald Trump se prokureurs versoek die terugtrekking van sy swyggeldsaak
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa se besluit om Thembi Simelane as minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling te verwyder en as minister van Menslike Nedersettings te herontplooi, is kortsigtig en oneerbiedig teenoor Suid-Afrikaners. Die president was toenemend onder druk om haar te verwyder nadat dit aan die lig gekom het sy het gedurende haar termyn as Polokwane-burgemeester ‘n lening ontvang van ʼn maatskappy wat uit VBS Mutual Bank voordeel getrek het. Glynnis Breytenbach van die DA sê Simelane hoort nie in die Kabinet nie:
Op sy beurt beskryf ActionSA president Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling en herontplooiing van Simelane na Menslike Nedersettings as lafhartig. ActionSA-woordvoerder Athol Trollip sê hulle sal nie Ramaphosa se poging om Simelane teen ware aanspreeklikheid te beskerm, aanvaar nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kommer uitgespreek oor die haglike toestand van die Tembisa Hospitaal se infrastruktuur, ʼn tekort aan noodsaaklike hulpbronne en onveilige werkstoestande. Die vakbond sê die hospitaal se ongevalle-afdeling is konstant oorlaai en pasiënte wag dae lank om behandel te word. Hy is ook bekommerd oor die gebrek aan sekuriteit met psigiatriese pasiënte wat sonder toesig rondloop terwyl gevaarlike toerusting soos suurstoftenks nie toegesluit word nie. Die vakbond sê die Gautengse Gesondheidsdepartement moet ʼn omvattende aksieplan ontwikkel om hierdie probleme te hanteer.
# Verkose president Donald Trump van Amerika se prokureurs het ʼn mosie ingedien dat die Manhattan-swyggeldsaak teen hom laat vaar word. New York se distriksaanklaer, Alvin Bragg het Trump vroeër vanjaar suksesvol vervolg vir die vervalsing van sakerekords wat verband hou met swyggeld-betalings in 2016 aan die filmster, Stormy Daniels. Regter Juan Merchan het Trump se vonnisoplegging verlede maand onbepaald uitgestel sodat prokureurs oor sy toekoms kan beraadslaag. Spesiale raadslid Jack Smith het Trump se twee federale strafregtelike sake laat vaar en voer aan ʼn dienende president kan nie vervolg word nie.
# Sokker: Wallis het vir die eerste groot vroue-toernooi gekwalifiseer. Hulle neem volgende jaar in Switserland deel aan die Europese Kampioenskap nadat hulle Ierland met twee-een in Dublin geklop het. Hannah Cain en Carrie Jones se doele het aan Wallis ʼn oorwinning besorg ná verlede week se een-elk tuiswedstryd in die eerste deel. Intussen het Swede die Serwiërs met ses-nul verpletter om ʼn oorwinning van agt-nul te behaal en vir die Euro’s te kwalifiseer. Wallis se bestuurder, Rhian Wilkinson, sê haar span is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-788–dollars-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….