Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FNB raai Suid-Afrikaners aan om brandstofbegrotings aan te pas weens die stygende koste
# Rugby: Die nuwe formaat vir die Kaapstadse Sewes laat min ruimte vir foute
# En, die gewese F1-baas Bernie Ecclestone verkoop sy hele motor-versameling
# FNB sê môre se brandstofprysverhoging is ‘n slag vir vakansiegangers, met 95-oktaan- en 93-oktaan-petrol wat met 17-sent per liter styg en diesel met meer as 50-sent. Die bank skryf die styging toe aan die swakker rand, aangevuur deur globale faktore soos die Amerikaanse verkiesing en hoër internasionale dieselpryse. ‘n Senior ekonoom van FNB, Koketso Mano, raai burgers aan om hul brandstofbegrotings te hersien en beter te bestuur om brandstofkoste tydens die feestyd te besnoei:
# ‘n Ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, vra dringende ekonomiese hervormings ná die teleurstellende daling van 0,3-persent in die bruto binnelandse produk in die derde kwartaal. Hy beklemtoon ekonomiese vooruitsigte bly kwesbaar weens ongunstige weerstoestande, verswakte uitvoere en sektore wat onderpresteer. Parsons sê landbou word veral geraak deur die moeilike klimaatstoestande. Hy versoek meer befondsing en vinniger hervormings in die openbare en die privaat sektor om indiensnemings-intensiewe groei aan te vuur en die ekonomie te verbeter:
# Die Grensbestuursowerheid staan voor ‘n begrotingstekort van 4,3-miljard-rand weens uitdagings met ekonomiese groei. Die tekort beïnvloed sy vermoë om grense te beveilig. Ten spyte hiervan gaan die owerheid voort met sy werk en fokus op gebiede met ʼn hoë risiko asook die strategiese hertoewysing van hulpbronne. Volgens die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, belemmer beperkte befondsing die doeltreffendheid van die owerheid, maar groter samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe kan grensveiligheid verbeter.
# Rugby: Die Kaapstadse Sewes het hierdie naweek ʼn nuwe formaat. Slegs 12 spanne ding mee in vier groepe, wat beteken elke land speel Saterdag net twee groepswedstryde. Daar is nie ‘n kwarteindronde nie, maar die voorste twee spanne in elke groep dring regstreeks deur na Sondag se halfeindstryde. Dit laat min ruimte vir foute omdat een nederlaag ʼn span se kanse kan beëindig om die voorlaaste ronde te bereik. Die Blitsbokke speel in Groep C teen Ierland en Argentinië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-339-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-652-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige uitvoerende hoof van Formule Een, Bernie Ecclestone, sê hy gaan sy hele motor-versameling verkoop. Die versameling bestaan uit 69 motors wat Ferrari’s insluit waarmee renjaers soos Michael Schumacher en Niki Lauda wêreldkampioenskappe gewen het. Die versameling wat oor meer as vyf dekades bymekaar gemaak is, sal deur die sport- en renmotorhandelaar, Tom Hartley Junior, verkoop word. Die 94-jarige Ecclestone sê hy is lief vir al sy motors, maar dis tyd om te dink wat met hulle sal gebeur wanneer hy sterf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….