Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se BBP toon negatiewe groei in die derde kwartaal
# Krieket: Donald Bradman se Baggy Green verkoop vir 4,5-miljoen-rand op ‘n veiling in Sydney
# En ‘n beer gevang na hy ‘n werker aanval in ‘n Japannese supermark
# Suid-Afrika se bruto binnelandse produk het in die derde kwartaal vanjaar met 0,3-persent gedaal, ná ‘n effense toename die vorige kwartaal. Die afname word hoofsaaklik veroorsaak deur ‘n daling van 28,8-persent in die landbou-, bosbou- en visvangsektore, sowel as ‘n vermindering van bedrywighede in vervoer en handel. Huishoudelike besteding het met 0,5-persent gestyg, en bygedra tot ekonomiese prestasie, maar regeringsverbruik het afgeneem. Bokang Vumbukani-Lepolesa van Statistieke Suid-Afrika sê uitvoere en invoere het ook ‘n afname getoon wat BBP-besteding beïnvloed het:
# Die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking probeer om meer as ‘n miljoen-rand van amptenare oorsee te verhaal vir skade aan huur-eiendomme. Die departement het die afgelope vyf jaar 1,3-miljoen-rand se verliese gely waarvan slegs 200-duisend verhaal is. News24 berig 33 tugsake is aangemeld, maar slegs twee amptenare is geskors. Die grootste verlies van meer as 600-duisend-rand was in die 2023/’24-boekjaar. Die departement gaan voort met pogings om die uitstaande geld terug te kry.
# Die Stad Kaapstad het meer as 680 menseredders na strande en swembaddens ontplooi vir die somer se verwagte toeloop van toeriste. Dit is deel van die grootste veiligheidsontplooiing ooit van meer as vyfduisend personeellede oor die feestyd reg oor die metro. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdiens en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die Identikidz-kinderveiligheidsprojek sal ook in werking wees waarin meer as 130-duisend kinders verlede somer deur middel van armbande gemerk is:
# Krieket: Die pet wat die legendariese Australiese kolwer Don Bradman gedra het, het vir meer as 4,5-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling in Sydney. Hy het die Baggy Green gedra tydens die toetsreeks van 1947/’48 teen Indië waartydens hy 715 lopies aangeteken het. Bradman het kort daarna uitgetree met ‘n wêreldrekord-toetskolfgemiddeld van 99,94. Nog ‘n Baggy Green wat hy tydens sy eerste toets in 1928 gedra het, is in 2020 vir 5,2-miljoen-rand verkoop, en die beroemde Australiese draaibouler Shane Warne s’n vir 11,7-miljoen-rand dieselfde jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-525-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: ’n Beer wat amok gemaak het in ’n supermark in die stad Akita in die noorde van Japan, is gevang twee dae nadat hy ’n werker aangeval het. Die 47-jarige werknemer het ‘n ligte kopbesering opgedoen. Owerhede kon die dier eers twee dae later vastrek en van kant maak nadat hy die vleisafdeling geplunder en sommige rakke beskadig het. Aanvalle deur bere word toenemend ‘n probleem in die land, veral in die noorde, waar bergreekse en welige bosse die ideale habitat bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….