Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad het sy status as een van die wêreld se gewildste rolprentvervaardigingsplekke bevestig met ‘n ateljee-projek van 900-miljoen-rand by Paardevlei in Somerset-Wes. Die metro het ʼn verhuringsooreenkoms vir die ontwikkeling van ʼn hipermoderne aanleg goedgekeur. Dit sal honderde werksgeleenthede skep en die plaaslike ekonomie ʼn hupstoot gee. Toekomsplanne sluit ʼn see- en onderwater-klankverhoog in. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hierdie ontwikkeling sal Kaapstad se posisie in die wêreld se kreatiewe bedryf ʼn hupstoot gee.
# A24 se A Different Man met Sebastian Stan en Renate Reinsve in die hoofrolle is op die Gotham-toekennings in New York as Beste Fliek aangewys. Die benoemdes is gekies deur komitees bestaande uit kritici, joernaliste, feesbeplanners en rolprentkurators. Sing Sing het twee toekennings gewen – Colman Domingo is vereer vir uitstaande prestasie in ʼn hoofrol, en Clarence Maclin vir beste prestasie as byspeler. Nickel Boys het ook twee toekennings gewen: een vir RaMell Ross as beste regisseur en een vir Brandon Wilson as deurbraak-speler. Die Gothams het ook mense soos Angelina Jolie en Zendaya vereer.
# Meestersgraad-studente in sake-administrasie aan die Universiteit van Kaapstad het skoonskip gemaak op die Genève-uitdaging in Switserland. Die wêreldwye kompetisie fokus op baanbrekende oplossings vir ernstige maatskaplike probleme. Die Kaapse span het meegeding met 222 spanne uit 94 lande en hulle projek, Mntase Cares – Mobile Clinics for Youth Empowerment, is as wenner aangewys. Die projek handel oor die ernstige kwessie van tienerswangerskappe in Suid-Afrika. Catherine Duggan van die universiteit sê die studente gaan voort om die krag van vernuwing en samewerking op die wêreldverhoog te demonstreer.
# Die Universiteit van Pretoria se Departemente van Institusionele Vooruitgang en Inskrywing, en Studente-administrasie het 23 pryse opgeraap op die toekennings vir uitnemendheid in Bemarking, Vooruitgang en Kommunikasie in Onderwys. Die toekennings gee erkenning aan die prestasies van spesialiste en praktisyns in bemarking, vooruitgang en kommunikasie in Suid-Afrika se sektor vir hoër onderwys. Van die toekennings wat die departemente ontvang het, sluit in goud vir die Choose UP Day regstreekse veldtog, silwer vir UP Gets #Ready4Work, en brons vir Lead UP-podsending se vierde seisoen.
# En ten slotte: Die voormalige uitvoerende hoof van Formule Een, Bernie Ecclestone, sê hy gaan sy hele motor-versameling verkoop. Die versameling bestaan uit 69 motors wat Ferrari’s insluit waarmee renjaers soos Michael Schumacher en Niki Lauda wêreldkampioenskappe gewen het. Die versameling wat oor meer as vyf dekades bymekaar gemaak is, sal deur die sport- en renmotorhandelaar, Tom Hartley Junior, verkoop word. Die 94-jarige Ecclestone sê hy is lief vir al sy motors, maar dis tyd om te dink wat met hulle sal gebeur wanneer hy sterf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….