Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag bekom ‘n sleutel bewaringsbevel teen onwettige mynbou in Noordwes
# Die vermeende diamantskema-bedrieër Louis Liebenberg laat vaar weer sy borgtogaansoek
# En, krieket: Marco Jansen neem sewe paaltjies om Sri Lanka vir net 42 uit te knikker
# Die Hooggeregshof in Mahikeng, Noordwes, het aan die Nasionale Vervolgingsgesag ‘n bewaringsbevel toegestaan vir gesteelde platinumgroep-materiaal van 350-miljoen-rand en ‘n wit Mercedes-Benz Vito na ‘n ondersoek oor onwettige mynbou. Daar is op die materiaal beslag gelê tydens die ondersoek wat gevolg het op inligting van die Impala-platinummyn. Sivenathi Gunya van die NVG sê vyf beskuldigdes wat op borgtog vrygelaat is, staan tereg op aanklagte wat verband hou met onwettige mynbou. Die saak is uitgestel tot Januarie.
# Die vermeende diamantskema-bedrieër Louis Liebenberg het sy borgtogaansoek ‘n tweede keer laat vaar in die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng. Hy en sy vrou, Dezzi, is verlede maand saam met agt ander mense in hegtenis geneem. Liebenberg staan tereg op aanklagte van rampokkery, bedrog en geldwassery in verband met ‘n beleggingsbedrogspul van vier-miljard-rand. Die meeste van sy medebeskuldigdes is borgtog toegestaan, maar Dezzi is borgtog geweier. Liebenberg het verwys na siekte toe hy tydens kruisondervraging sy aansoek teruggetrek het. Die saak is tot 4 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek.
# Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het die Ouditeur-generaal se bevindings ontken oor onreëlmatige aanstellings van uitvoerende hoofde by die Chris Hani Baragwanath-, die Steve Biko- en die George Mukhari-hospitaal. Die Ouditeur-generaal het die nie-nakoming van Staatsdiensregulasies aangehaal, insluitend ongekwalifiseerde kandidate met geen senior bestuurservaring nie. Aanbevelings bepleit toesig en nakoming. Die DA se provinsiale woordvoerder, Jack Bloom, sê die party beplan ‘n besoek aan die Ouditeur-generaal om aan te dring op bekwame hospitaalbestuur:
# Die Stigting vir Beheerliggame is besorg oor die toename in geweld in skole. Onlangse misdaadstatistiek toon daar was tussen April en September 25 moorde, 197 verkragtings en 577 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer by skole. Hiervan is 104 leerders deur medeleerders verkrag, terwyl onderwysers in 12 gevalle die oortreders was. Die uitvoerende hoof, Anthea Cereseto, waarsku oor onderrapportering weens vrees. Onderwyskenners vra strenger keuring, ondersteuning deur maatskaplike werkers en sigbare wetstoepassing om hierdie neiging in skole te bekamp.
# Krieket: Die Proteas se snelboulers het Sri Lanka vir net 42 lopies uitgeknikker op die tweede middag op Kingsmead in Durban. Marco Jansen het die grootste verwoesting gesaai met sewe paaltjies vir net 13 lopies in sewe boulbeurte. Hy is goed bygestaan deur Gerald Coetzee wat twee paaltjies geneem het, en Kagiso Rabada die ander een. Dit gee aan Suid-Afrika ‘n stewige eerstebeurt-voorsprong van 149 lopies nadat kaptein Temba Bavuma die tuisspan gered het met ʼn uitdagende beurt van 70, wat hulle tot 191 gevoer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-447-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….