Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien voorstelle by Ramaphosa in terwyl Suid-Afrika gereedmaak vir die G20 se presidentskap
# Johannesburg gaan skuld van 1,4-miljard aan Eskom vereffen
# En, krieket: Die Nieu-Seelandse kolwer Kane Williamson beïndruk op die eerste dag van die eerste toets teen Engeland
# Die DA sê hy het ‘n lys sleutelvoorstelle aan president Cyril Ramaphosa gestuur oor Suid-Afrika se benadering om die G20-beraad aan te bied. Die land maak gereed om Sondag die G20 se presidentskap oor te neem. Dit is die eerste keer dat ʼn Afrika-ekonomie die G20 vir die jaar lange rotasie-termyn lei. Ryan Smith van die DA sê hulle doen onder andere ʼn beroep vir groter betrokkenheid en kennis uit die privaat sektor:
# Die Stad Johannesburg sal vandag sy uitstaande bedrag van 1,4-miljard-rand aan Eskom betaal om te verhoed dat die stad van die netwerk ontkoppel word. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut se sperdatum vir die ondersoek van fakture is verleng tot 6 Desember. Volgens News24 veg die stad ook teen onwettige elektrisiteitsgebruik, met byna 47-persent van voorafbetaalde meters wat as ongeldig geïdentifiseer is. Pogings gaan voort om aandag te gee aan gepeuter en agterstallige skuld.
# Namibiërs het gister na die stembus gegaan, maar baie kiesers moes lank wag om hul kruisies te trek nadat talle stemlokale te min stembriewe gehad het. Volgens berigte het sommige mense ure lank tougestaan om te stem, wat op logistieke uitdagings dui. Netumbo Nandi-Ndaitwah van die regerende SWAPO probeer om die land se eerste vroue-president te word. Die Namibiese polisie se hoofinspekteur, Elifas Kuwinga, sê daar was nie te veel groot sekerheidsprobleme nie:
# Krieket: Kane Williamson het 93 vir Nieu-Seeland aangeteken op die eerste dag van die eerste toets teen Engeland in Christchurch, en die gasheer het met uitskeityd 319 vir agt op die telbord gehad. Williamson het vasgeskop ná sy span reeds in die tweede boulbeurt ‘n paaltjie verloor het, maar is uitgehaal net ‘n skamele sewe lopies kort van sy 33ste toets-hondertal. Na sy vertrek het die Swartpette gestruikel en vier paaltjies in die laaste skof afgestaan. Williamson sê die wedstryd is goed gebalanseerd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-298-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-637-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Breadline Africa se jaarlikse Funky Sokkies-dag het byna 1,5-miljoen-rand ingesamel – ʼn halfmiljoen-rand meer as verlede jaar. Die veldtog verenig mense van alle agtergronde om sentrums vir vroeëkinderjare-ontwikkeling in kwesbare gemeenskappe te ondersteun. Die fondse sal 50 van hierdie sentrums in Suid-Afrika en Namibië voorsien van noodsaaklike artikels en hulpbronne vir klaskamers. Breadline Africa se uitvoerende hoof, Marion Wagner, sê belegging in vroeëkinderjare-ontwikkeling is belangrik om ʼn beter toekoms vir kinders te bou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….