Nuus 08:00
BULLETIN 28 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF doen ‘n beroep op die regering om sy ekonomiese hervormings vasbeslote deur te voer
# BOSA kry meer as 12-duisend handtekeninge om die Seksuele Oortredersregister publiek te maak
# En krieket: Engeland verseker ‘n T20-reeksoorwinning oor die Protea-vroue
# Die Internasionale Monetêre Fonds beskou die regering van nasionale eenheid as ‘n geleentheid om Suid-Afrika se ekonomie op ʼn pad na beter en meer inklusiewe groei te plaas. Die organisasie het Woensdag sy jaarlikse beleidshersiening oor die land bekend gemaak. Hy sê die regering moet sy ekonomiese hervormings doelgerig instel en voorkeur gee aan hervormings in die elektrisiteit- en logistieke sektore. Die IMF waarsku indien hervormings vertraag word of politieke weerstand teenkom, sal die nuwe vertroue verswak wat leningskoste verhoog en groei belemmer.
# Build One South Africa se versoekskrif dat die Nasionale Register van Seksuele Oortreders openbaar en toeganklik gemaak word, het al meer as 12-duisend handtekeninge. Die land vier tans 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders. BOSA-woordvoerder, Roger Solomons, sê deur die Nasionale Register van Seksuele Oortreders bekend te maak, word oortreders aanspreeklik gehou en moontlike slagoffers in die toekoms beskerm:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die polisie versoek om verdere ondersoek in te stel na bewerings van kinderpornografie teen ʼn professor in die regte aan die Universiteit van Kaapstad, Pierre de Vos. Die bewerings volg nadat De Vos in September ʼn video van vermeende kinderpornografie op sy X-, voorheen Twitter, rekening geplaas het. Hy sê sy rekening was gekraak. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid sê die NVG se aanvanklike besluit om nie te vervolg nie, was voortydig, irrasioneel en gegrond op ʼn verleentheidswekkende en doelbewus onvolledige ondersoek.
# Die Suid-Afrikaanse regering het die skietstilstand-ooreenkoms tussen Israel en Libanon verwelkom en sê hy hoop die vyandelikhede sal permanent beëindig word. Tydens die skietstilstand van 60 dae wat gister begin het en deur Amerika ondersteun word, sal Israel uit die suide van Libanon onttrek en Hizbollah sal sy soldate en swaar wapentuig tot noord van die Litani-rivier verskuif. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê hulle doen ʼn beroep op alle partye om die ooreenkoms na te kom:
# Krieket: Engeland se vrouespan het Suid-Afrika met 36 lopies geklop in die tweede T20-wedstryd in Benoni, en daarmee die reeks van drie wedstryde in hul guns beklink met een wedstryd wat oorbly. Danni Wyatt-Hodge het 78 lopies aangeteken en Nat Sciver-Brunt ʼn onoorwonne 67. Die besoekers het 204 vir vier op die telbord geplaas wat hul derde hoogste T20-telling is. Suid-Afrika is daarna beperk tot 168 vir ses met Sarah Glenn wat vier paaltjies platgetrek het. Engeland gaan probeer skoonskip maak in die laaste T20 wat Saterdag in Centurion plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-421-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-630-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….