Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Eskom gaan jaarliks ’n geraamde 30-miljard-rand se inkomste terugwen deur die omskakeling van elektristeitsmeters. Slegs 400-duisend van 2,1-miljoen meters het aan die vereistes van die omskakeling voldoen.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile het gister tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê ‘n lughawe gaan in die suide van Johannesburg gebou word om die Sedibeng-gemeenskap te ontwikkel. Die provinsie verkeer onder ernstige druk as gevolg van die uitstaande e-tol-skuld en reuse-salarisrekening.
En tweedens skryf die koerant ‘n swakker vorm van ‘n tornado het gister dele van Randfontein getref en groot skade in Toekomsrus aangerig.
# The Star & Pretoria News:
Berig die aanstelling van die voormalige Limpopo-premier, Ngoako Ramatlhodi as eerste minister van die Bapedi-volk is nie uit alle oorde verwelkom nie.
En skryf die ANC-oudstryder, Matthews Phosa het gewaarsku oor die ANC se verlies aan steun.
# Sowetan:
Berig oor ‘n voorval by ‘n skoolkoshuis waar die gemeenskapspolisiëringforum na bewering ingeroep is om kinders te slaan wat nie wil slaap nie. Die Departement van Basiese Onderwys het ouers aangeraai om strafregtelike sake aanhangig te maak.
# En The Citizen:
Skryf die swak diëte wat ons vir ons kinders aanbied, plaas hulle in gevaar.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die DA het gevra dat die regering moet ingryp nadat dit aan die lig gekom het dat meer as 100 kinders onder vyf jaar die afgelope drie jaar in die Noord-Kaap aan wanvoeding omgekom het.
Dan skryf die koerant ‘n makelaar van Bloemfontein, Salome le Roux is vreesbevange nadat sy op twee agtereenvolgende dae deur ‘n man in ‘n Kia geteister is. Le Roux was op pad na die gimnasium toe die voorvalle gebeur het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die moordverhoor van die 17-jarige Jesse Mitchell van Stellenbosch. Cornelius Kruger en Rudolf Hufke is in hegtenis geneem in verband met die moord. Die saak is uitgestel tot 23 Desember vir verdere ondersoek en ‘n borgtogaansoek.
En tweedens skryf die koerant Granville Carlson wat ook bekendstaan as Koning Khoekhoe is deur die hof as kwelsugtige litigant verklaar en verbied om die Universiteit Stellenbosch verder te dagvaar.
# En Cape Times:
Berig die kuber-gebreke van Sassa is ontbloot.
En skryf Suid-Afrikaanse huishoudings moet hulself voorberei op verdere stygings in voedselpryse.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n vyf maande lange soektog na Manelisi Maneli Matoto wat verbind word met ’n dubbele moord in Gqeberha in Junie, het gelei tot sy inhegtenisneming. Met die hulp van lede van die publiek is hy by sy huis in KwaMaqoma opgespoor.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “WOMAN SURVIVES BRUTAL STABBING BY HER BOYFRIEND”. Die koerant berig ook oor die voorkoms van geslagsgeweld in die gemeenskap.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die uitslag van gister se Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesing, kan volgens kenners die bestuurstrukture in Namibië skud.
En tweedens skryf die koerant QatarEnergy het ’n ooreenkoms met sy beleggingsvennoot aangegaan om bykomende belange in twee aflandige blokke in Namibië se Oranjekom te verkry.