Nuus 07:00
BULLETIN 28 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tolashe beloof om SASSA se stelsels teen bedrog te versterk
# Israel gaan appèl aanteken teen die Internasionale Strafhof se arrestasiebevele
# En rugby: Die Bokke speel volgende jaar in Suid-Afrika teen Italië, Georgië, Argentinië en Australië
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid is besig om sy stelsels te versterk om identiteitsdiefstal te bekamp en dienslewering te verbeter. Dit volg na bewerings deur twee studente van die Universiteit Stellenbosch dat SASSA se Maatskaplike Noodtoelaestelsel kwesbaar is. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê die agentskap het nuwe sekerheidskenmerke soos gesigsherkenning bygevoeg en werk saam met wetstoepassing om voortgesette bedrog met die stelsel te verhoed:
Die DA vra intussen president Cyril Ramaphosa om goedkeuring aan die Spesiale Ondersoekeenheid te verleen om bedrog met die Maatskaplike Noodverligtingtoelae binne SASSA te ondersoek. Die DA-woordvoerder vir Maatskaplike Ontwikkeling, Alexander Abrahams, vra dringende hervormings om openbare vertroue te herstel en aanspreeklikheid in Suid-Afrika se maatskaplike bystandsraamwerk te verseker:
# ʼn Dwelmlaboratorium met ʼn geraamde waarde van 100-miljoen-rand is in Rietfontein, Gauteng, ontdek wat tot die inhegtenisneming van ʼn 39-jarige Mexikaanse burger gelei het. ʼn Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê ʼn deursoeking-en-beslagleggingslasbrief is verkry nadat die perseel deeglik dopgehou is. Sy sê die verdagte word aangekla van handel in en vervaardiging van dwelms, asook oortreding van die Wet op Immigrasie:
# Nog 20 onwettige mynwerkers is gister gearresteer nadat hulle by skag 10 in Stilfontein, Noordwes, na die oppervlak gekom het. Die groep was blykbaar by die ou, verlate Buffelsfontein-goudmyn bedrywig. ʼn Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê die groep bestaan uit tien burgers van Lesotho, ses van Zimbabwe en vier van Mosambiek. Daar is tot op hede meer as een-duisend-300 onwettige mynwerkers in hegtenis geneem. Tientalle ander onwettige mynwerkers sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
# Israel het die Internasionale Strafhof in kennis gestel dat hy gaan appelleer teen die lasbriewe wat uitgereik is teen eerste minister Benjamin Netanyahu en die voormalige minister van Verdediging, Yoav Gallant. Die hof het verlede week lasbriewe uitgereik vir hulle inhegtenisneming, asook dié van die Hamas-bevelvoerder Mohammed Deif vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Israel sê hy ontken die gesag van die Internasionale Strafhof en die wettigheid van die lasbriewe teen Netanyahu en Gallant.
# Rugby: Italië, Georgië, Australië en Argentinië speel volgende jaar in Suid-Afrika teen die Springbokke. Die wedstryde op die vyfde en twaalfde Julie sal die Azzurri se eerste in die land wees in 12 jaar. Die Bokke speel ‘n week later teen Georgië, waarna die verdedigende kampioen in Augustus in twee Rugbykampioenskapstoetse teen die Wallabies te staan kom. Die Bokke speel dan twee toetse teen die All Blacks in Nieu-Seeland, gevolg deur ‘n tuis- en ‘n wegwedstryd teen die Pumas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-394-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-626-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….