Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se voedselinflasie het in Oktober gedaal
# Suid-Afrika voer geneties-aangepaste mielies in uit Amerika te midde van oestekorte
# En, rugby: Die Blitsbokke wil beïndruk op die Sewes-openingstoernooi in Dubai
# Suid-Afrika se voedselinflasie het in Oktober op ‘n jaargrondslag tot 3,6-persent gedaal, van 4,7-persent in September. Dit is die agtste agtereenvolgende maand binne die Reserwebank se teikenkoers van drie tot ses-persent. Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid sê daar was ‘n prysdaling vir pasta, uie en beesvleis. Ten spyte daarvan het die prys van die voedselmandjie op ‘n jaargrondslag met vier-persent gestyg met vraag in die feestyd wat toekomstige inflasie moontlik gaan beïnvloed.
Suid-Afrika gaan intussen geneties aangepaste wit en geel mielies vanaf Amerika invoer nadat ‘n droogte plaaslike produksie met 22-persent laat krimp het. Die Departement van Landbou het regulerende kwessies opgelos en permitte moontlik gemaak om sowat 800-duisend ton mielies in te voer tot April volgende jaar. Dit volg ná Suid-Afrika se kleinste mielie-oes in vyf jaar. Kenners sê hoewel aanplantings minimaal toegeneem het, kan die verwagte La Niña-weerverskynsel die oeste in 2025 ‘n hupstoot gee.
# Matrieks word versoek om alkoholmisbruik te vermy en veiligheid voorop te stel tydens vierings ná die eksamen. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het op ‘n nuuskonferensie die behoefte aan verantwoordelike vierings beklemtoon, veral tydens penne-neer-geleenthede en die gewilde Rage-saamtrekke. Gwarube het graad 12-leerders gevra om in ‘n veilige omgewing hul prestasies te vier en het ook gemeenskappe, onderwysers en ouers aanmoedig om waaksaam te wees in hierdie feestyd:
# Amnestie Internasionaal sê hy kan bewys die Angolese polisie het minstens 17 betogers se dood veroorsaak binne ongeveer 30 maande met die gebruik van oormatige geweld. Die groep sê nie een van die betrokke beamptes of hul bevelvoerders is gestraf nie. Hy beskuldig die polisie van wrede onderdrukking eerder as om die reg tot vreedsame verset respekteer. Die polisie se hardhandige optrede word beskou as ‘n nalatenskap van die burgeroorlog tussen 1975 en 2002 en byna vier dekades van onderdrukking onder die voormalige president, José Eduardo dos Santos.
# Rugby: Tristan Leyds sê hy is gereed om hierdie naweek vir die Blitsbokke te speel in die Dubaise Sewestoernooi. Hy vervang die beseerde Selvyn Davids. Die 27-jarige beklemtoon die span se benadering is om oefenstrategieë op die veld uit te voer en mense weer trots te maak op die Blitsboktrui. Leyds het reeds vyf toernooie en 69 punte agter sy naam en is gretig om die eerste keer sy merk in Dubai te maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-362-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….