Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube herbevestig haar verbintenis tot ‘n billike en veilige matriekeksamen
# ‘n Tiener word gevonnis tot 43-jaar vir die moord op ‘n skoolhoof van Nongoma
# En, rugby: Die Blitsbokke wil beïndruk op die Sewes-openingstoernooi in Dubai
# Die nasienproses het begin en die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die departement daartoe verbind om billike en veilige matriekeksamen-uitslae te verseker. Meer as 50-duisend nasieners het vandag met hul taak begin by 181 sentrums landwyd. Meer as 300 leerders in die Oos-Kaap wat deur oorstromings geraak is, sal toegelaat word om hul eksamen oor te skryf. Gwarube het op ‘n nuuskonferensie gesê die eksamen het glad verloop, met geringe onreëlmatighede:
# ‘n Vyftienjarige seun van KwaZulu-Natal is tot 43-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die hoof van die Hoërskool Bhekintinta, Alpheus Ntuli. Die Streekhof op Nongoma het die tiener verlede week ook skuldig bevind aan die diefstal van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê die tiener het skuldig gepleit op al die aanklagte:
# Beskadiging van die infrastruktuur van die Theewaterskloofdam in die Wes-Kaap dra jaarliks by tot waterverliese van sowat 18-miljoen-rand. Dit sluit die diefstal in van pompe en ander strukture wat edelmetale bevat. Intussen sukkel die Theewaterskloof-munisipaliteit ook weens ‘n gebrek aan befondsing vir sy waterontwikkelingsplan. Die portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie sê meer beskerming is nodig om sleutelinfrastruktuur te beveilig.
# Die wapenstilstand tussen Israel en Hizbollah in Libanon kan moontlik ‘n einde bring aan oorgrensaanvalle van meer as ʼn jaar, en ʼn maande lange volskaalse oorlog waarin duisende mense dood is. Die staking van vyandelikhede vir 60 dae kan die grondslag vorm van ‘n blywende vredesooreenkoms. Hizbollah-vegters sal na verwagting tot 40-kilometer van die Israelse grens terugtrek, en Israelse grondmagte moet aan Libanese grondgebied onttrek. Ontwortelde Libanese is intussen op pad terug huis toe ondanks waarskuwings van Israelse en Libanese gewapende magte om dit nie te doen nie.
# Rugby: Tristan Leyds sê hy is gereed om hierdie naweek vir die Blitsbokke te speel in die Dubaise Sewestoernooi. Hy vervang die beseerde Selvyn Davids. Die 27-jarige beklemtoon die span se benadering is om oefenstrategieë op die veld uit te voer en mense weer trots te maak op die Blitsboktrui. Leyds het reeds vyf toernooie en 69 punte agter sy naam en is gretig om die eerste keer sy merk in Dubai te maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-541-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….