Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die privaat hospitaalgroep Netcare stel voor dat samewerking met die regering om die ekonomie ‘n hupstoot te gee ook na gesondheidsorg uitgebrei word. Die koerant skryf die doel is om die vernaamste probleme aan te spreek, insluitend die lang wagtyd vir mediese prosedures en die opleiding van dokters en verpleegpersoneel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg het sy eie borgtogaansoek gelei. Hy het in die Bronkhorstspruit-landdroshof aangevoer die staat sien hom as die vyand en al wat hy wou doen is om mense te help. Die aansoek hervat Donderdag met die staat se kruisondervraging.
Tweedens skryf die koerant die Society for the Protection of our Constitution se aansoek teen die regering oor die onwettige mynwerkers in Stilfontein is deur die hof verwerp. Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die motivering vir die aansoek is op gebrekkige feite gegrond.
En laastens word berig die rooibekrenostervoël is deur Birdlife SA aangewys as Suid-Afrika se voël van die jaar.
# The Star & Pretoria News:
Skryf eerstens oor die daling in Suid-Afrika se misdaadsyfers.
En berig die sakesektor verwag ‘n baie besige Swart Vrydag.
# Sowetan:
Berig meer as twee-duisend-500 vroue en kinders is van April tot September vanjaar in Suid-Afrika vermoor. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê dit vereis optrede deur elke landsburger.
# En The Citizen:
Lei met: “CRIME: GOOD BAD & UGLY”. Die koerant ontleed die misdaasyfers – hoewel daar vordering is, is daar baie terreine wat nog swak is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Louis Liebenberg en skryf ook oor die voël van die jaar.
Dan word berig professor Hester Klopper wat aangestel is as rektor van die Universiteit van die Vrystaat sê haar doel is om die universiteit se reputasie in Afrika en die wêreld uit te bou.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig in detail oor Suid-Afrika se jongste misdaadsyfers. Die koerant skryf hoewel die moordsyfer gedaal het, het geweldsmisdaad teen kinders en ontvoerings toegeneem. Minder rooftogte is ook aangeteken maar die meeste moorde in die land is in Kaapstad aangemeld.
En tweedens skryf die koerant Solidariteit wil die Hoërskool Bellville hof toe neem omdat drie poste wat oortollig verklaar is intussen weer gevul is.
# En Cape Times:
Skryf ook Kaapstad se polisiestasies is boaan die moordlys.
En berig die EFF neem nou die Phala Phala-kwessie en die Parlement se besluit om die president nie in ‘n staat van beskuldiging te plaas nie na die Konstitusionele Hof.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig terwyl Suid-Afrika se algehele moordsyfer gedaal het, is vier Nelson Mandelabaai-polisiestasies steeds onder die top 30 in die land waar die meeste moorde aangemeld is.
En tweedens skryf die koerant dit sal sowat 482-miljoen-rand kos om die sowat 171-duisend elektrisiteitsmeters in Nelson Mandelabaai waarmee gepeuter is te vervang.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “NEW CRIME STATS PAINT GRIM PICTURE FOR PROVINCE”. Die koerant skryf KwaZulu-Natal is steeds een van die provinsies met die meeste geweldsmisdade.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die staat se militêre maatskappy, August 26 Holdings het ‘n dringende raadsvergadering gehou ná beweringe van vervalste fakture en ‘n faktuur van agt-miljoen-rand vir ‘n enkele onderdeel.
En tweedens skryf die koerant welgestelde lande het belowe om sowat 5,4-duisend-miljard-rand teen die jaar 2035 in te samel om armer lande te help om klimaatsverandering te beveg.
En laastens is daar nuus oor Angela Alchin wat van môre af ‘n ultramarathon van 250 kilometer in Antarktika aandurf.