Nuus 06:00
BULLETIN 26 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sien positiewe resultate in die afname van misdaad
# Paul Mashatile betreur die toename in kinderswangerskappe
# En tientalle mense word vermis nadat ’n toeristeboot aan die kus van Egipte sink
# Die DA erken die vordering wat gemaak is met die vermindering van misdaad, ná ‘n daling van 5,1-persent in ernstige misdade, insluitend ‘n daling van 5,8-persent in moorde en ‘n 2,5-persent vermindering in seksuele misdrywe. Die party waarsku egter misdaad is steeds te hoog, veral geweldsmisdaad teen vroue en kinders, toenemende kommersiële misdaad en onvoldoende misdaadintelligensiespanne. Die DA-lid, Ian Cameron versoek beter wetstoepassing, verbeterde tegnologie en sterker samewerking van die regering vir doeltreffende misdaadbekamping:
Action Society sê intussen die jongste misdaadstatistieke het nie die ware omvang van die geweld teen vroue en kinders vasgelê nie. Volgens die organisasie toon die tweede kwartaal van 2024/2025 se verslag ontstellende toenames in geweldsmisdade, met 957 aangetekende moorde op vroue, tienduisend-191 verkragtings en 315 kindermoorde. Action Society se woordvoerder, Juanita du Preez, eis dat geslagsgeweld-sake dringend voorkeur moet kry:
# Adjunkpresident Paul Mashatile veroordeel die toenemende aantal kinderswangerskappe en beskryf dit as ‘n krisis wat dieper sosio-ekonomiese en kulturele kwessies weerspieël. Hy het tydens die amptelike bekendstelling van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, by die Burgersentrum in Rustenburg onthul meer as 100-duisend van alle geboortes die afgelope jaar was vir meisies van tien tot 19 jaar oud. Mashatile het gevra vir sterker optrede teen oortreders en meer beskerming vir kwesbare kinders:
# Solidariteit het ‘n dringende hofaansoek ingedien om die Wes-Kaapse Onderwysdepartement te keer om volgende jaar onderwysposte te sny. Die departement beplan om meer as twee-duisend poste te sny weens ‘n begrotingstekort van 3,8-miljard-rand. Solidariteit sê sy saak berus op ‘n besluit deur Hoërskool Bellville om die poste van drie onderwysers oortollig te verklaar. Ná hul afdanking het die skool egter die poste gevul. Solidariteit sê die hof moet besluit of die afdankingsproses met die Wet op Arbeidsverhoudinge strook.
# Meer as 12 mense word vermis nadat ‘n toeristeboot in die Rooisee naby die kus van Egipte gesink het. Die Sea Story het passassiers op ‘n duik-uitstappie vervoer en daar was 45 mense op die boot, insluitend 31 toeriste van verskeie lande, en 14 bemanningslede. Die goewerneur van die Rooisee-streek sê owerhede soek na vermistes nadat minstens 28 mense gered is. Die Egiptiese Weerdiens het Saterdag ‘n waarskuwing uitgereik oor onstuimige seetoestande in die Rooisee.
# Rugby: Die opwindende Springbok-agterspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu gaan na verwagting na ‘n besering terugkeer vir die Stormers in die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Haaie in Durban. Hy het sy knie seergemaak tydens die Rugbykampioenskap en kon nie die Bokke se jaareindtoer in Brittanje meemaak nie. Die Stormers is tans 13de op die VRK-punteleer na slegs twee oorwinnings in hulle vyf wedstryde. Die Haaie is negende na drie oorwinnings in vyf kragmetings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-250-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-627-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….