Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie teken in die tweede kwartaal ‘n daling van 5.1-persent in ernstige misdade aan
# Die EFF is bekommerd oor ernstige seksuele bewerings teen ontplooide Weermaglede
# En, sokker: Pep Guardiola is vol vertroue Manchester City kan die seisoen omkeer
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aangekondig daar was ‘n afname van 5,1-persent in ernstige misdade wat van Julie tot September aangemeld is. Hy versoek gespesialiseerde fokus op geslagsgeweld en vrouemoord, en sterker optrede teen georganiseerde en ekonomiese misdade, insluitend afpersing en aanvalle op kritieke infrastruktuur. Mchunu het opgemerk verkragtingsake het met 3,1-persent afgeneem, terwyl roof by huis- en ander persele met onderskeidelik 1,3- en 21,1-persent afgeneem het:
# Die EFF sê hy is erg beledig en ontsteld deur bevindings in ‘n verslag van die Verenigde Nasies se kantoor vir interne toesig, oor seksuele misdrywe wat deur militêre en vredesbewarings-sendings gepleeg word. Daar is meer as twee-duisend Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo, Soedan en Suid-Soedan. Die party sê die bevindings plaas Suid-Afrika boaan die lys van nasies wat oortree, met nege amptelike bewerings, en nog talle baie ernstige nie-amptelike bewerings, al is Suid-Afrika nie eens die grootste bydraer van soldate tot hierdie VN-sendings nie.
# Die ministers van Buitelandse Sake van die G7 vergader vir twee dae naby Rome vir samesprekings met streeks-ampsgenote oor die Midde-Ooste, en Rusland se oorlog in Oekraïne. Hulle sal ook die Internasionale Strafhof se lasbriewe vir die inhegtenisneming van die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, en Hamas se militêre hoof, Mohammed Deif, bespreek en hoe dit die krisisse in Libanon en Gaza raak. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sal die samesprekings bywoon saam met sy ampsgenote van Brittanje, Kanada, Duitsland, Frankryk, Japan en die gasheer, Italië.
# Sokker: Manchester City se hoofafrigter, Pep Guardiola, sê hy het volle vertroue dat sy span die seisoen weer op koers sal kry. Die verdedigende Premierliga-kampioen het Saterdag 4-0 verloor teen Tottenham, wat hulle vyfde agtereenvolgende nederlaag hierdie seisoen was. Dit was City se grootste tuisnederlaag sedert 2003, en die eerste keer sedert 2006 dat hulle vyf wedstryde in ‘n ry verloor het. Guardiola sê hy weet dit maak sy spelers seer, maar hulle moet nou saamstaan soos nooit tevore nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-385-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-684-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-31-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Sterrekundiges het ‘n splinternuwe planeet opgemerk wat om ‘n jong ster wentel. Die planeet het slegs drie-miljoen-jaar geneem om te vorm. In kosmiese terme is dit redelik vinnig, en die ontdekking bevraagteken die huidige begrip oor die spoed van planetêre formasies. Wetenskaplikes sê die ontdekking bevestig planete kan binne drie-miljoen-jaar gevorm word, wat voorheen nie ‘n uitgemaakte saak was nie, aangesien die aarde 10- tot 20-miljoen-jaar geneem het om te ontstaan. Die nuwe planeet is na raming 10 tot 20 keer die aarde se massa en een van die jongste planete buite die sonnestelsel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….