Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, stel haar nasionale kostuum en aandrokke wat oorspronklik ontwerp is vir die Mej Heelal-plegtigheid, op die Kaapstadse Modeweek bekend. Sy moes vroeër die maand onttrek aan die 73de Mej Heelalkompetisie in Mexiko weens ernstige duiseligheid. Le Roux sê ontelbare ure se werk het vir die uitsonderlike, manjifieke uitrustings gesorg en sy kan nie wag om hulle trots te dra nie. Die modeweek word die naweek op die Kenilworth-renbaan aangebied.
# BirdLife Suid-Afrika het die Rooibekrenostervoël aangewys as hulle Voël van die Jaar vir 2025. Die voël word die hele jaar lank herdenk, met hulpbronne wat vir leerders beskikbaar gestel word op die organisasie se webwerf. Renostervoëls lewer ‘n diens aan hul gashere asook die algehele ekostelsel deur bosluisbevolkings te beheer. Hulle waarsku ook hul gashere wanneer gevaar dreig. Die voël is ‘n koöperatiewe teler met tot sewe helpers wat die broeipaar bystaan om hul kleintjies te versorg, wat gewoonlik in gate in bome grootgemaak word.
# Die Universiteit van Pretoria se Museum-kunsuitstalling met die titel To Not Forget: 30 Years of Democracy 1994- 2024 boei kunsliefhebbers steeds. Die uitstalling bestaan uit meer as 30 sorgvuldig uitgesoekte Suid-Afrikaanse kunswerke wat elkeen ‘n betekenisvolle oomblik in die universiteit se oorgangsreis sedert die aanbreek van demokrasie uitbeeld. Die universiteit sê sedert die begin van demokrasie het hy sy versameling aansienlik uitgebrei met nuwe verkrygings wat inklusiwiteit, verskeidenheid en ‘n verteenwoordigende balans skep. Die uitstalling wat in April geopen het, sluit Saterdag.
# Die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, sê die bekendstelling van die Durbanse Strandkafee is nog ‘n aansienlike mylpaal in die metro se poging om die strandgebied as ‘n sleutel toerisme-bate te ontwikkel. Die eiendom was deel van die eerste groep persele wat in 2021 adverteer is nadat die metro die Proaktiewe Grondvrystellingstrategie aanvaar het. Xaba sê die herontwikkeling het ‘n ikoniese toeristebestemming op die strandgebied geskep:
# En ten slotte: Die 16-malige Grammy-wenner Adele het haar rekord-oortreffende Las Vegas-vertonings in die Colosseum-teater in Caesar’s Palace afgesluit. Die legendariese sangeres Celine Dion het die Colosseum in 2003 geopen met haar eerste vertoningsreeks. Weekends With Adele, wat in November 2022 begin het, het een van Vegas se grootste geldverdieners vir ‘n reeks vertonings geword. Adele sê die reeks was vir haar ‘n droom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….