Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering waarsku Suid-Afrikaners om die onwettige registrasie van spazawinkels te staak
# Kenners verwelkom die wysigings aan Suid-Afrika se geskiedenisleerplan
# En, rugby: Die statistiek is ten gunste van die Bokke Saterdag teen Wallis
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, sê die regering is bekommerd oor bewerings dat sommige Suid-Afrikaners onwettige buitelandse burgers bystaan om op bedrieglike wyse aan die vereistes vir die registrasie van spazawinkels te voldoen. Sy het op ‘n nuuskonferensie van die regering se interdissiplinêre span gepraat oor ‘n aksieplan om siektes wat deur voedsel oorgedra word, teen te werk. Volgens haar is dit ʼn duidelike poging om regulasies te omseil en die regering waarsku mense om hul onwettige optrede te staak:
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting terugverwys na die Nasionale Vergadering vir heroorweging. Die Parlement het die wetgewing aanvaar en na die president verwys vir goedkeuring. Dit is daarop gemik om onder meer die onderskepping van sekere kommunikasie te reguleer. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het sy bedenkinge oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp:
# Die parlementêre komitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die verbetering in die Stad Tshwane se bestuur en finansies geprys. Die komitee het ʼn oorsigbesoek aan die metro gebring. Die waarnemende voorsitter, Dikeledi Direko, het egter kommer uitgespreek oor die meer as 27-miljard-rand wat aan die metro geskuld word en ʼn regstreekse uitwerking op kontantvloei-bestuur het. Direko sê hulle verwelkom die versekering dat die metro met Eskom beraadslaag om ʼn terugbetalingsplan op te stel om agterstallige skuld van 6,7-miljard-rand oor die volgende vyf jaar terug te betaal.
# Kenners verwelkom wysigings aan Suid-Afrika se geskiedenisleerplan, met onder meer voorkoloniale geskiedenis vir graad 10 tot 12 wat bygevoeg word. Die doel is om weg te beweeg van ʼn Eurosentriese oogpunt en meer op Afrika-geskiedenis te fokus. News 24 berig geskiedkundiges glo dis belangrik om die stem van inheemse mense soos die San, Khoi en Xhosa, asook die gevolge van kolonialisme en apartheid, in te sluit. Die wysigings het ten doel om studente te help om krities te dink, hulle erfenis te verstaan en ingeligte wêreldburgers te word.
# Rugby: Die statistiek is ten gunste van die Springbokke wanneer hulle Saterdag in Cardiff teen Wallis te staan kom. Die twee spanne het al 42 keer teen mekaar gespeel en Suid-Afrika het 34 keer gewen en Wallis sewe keer, terwyl een wedstryd gelykop was. Die Bokke se grootste oorwinning oor die Walliesers was in 1998 in Suid-Afrika toe hulle 96-13 gewen het – Wallis se grootste nederlaag ooit. ‘n Oorwinning vir die wêreldkampioen op die Principality-stadion sal hulle hul eerste onoorwonne toer in die noordelike halfrond sedert 2013 besorg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-566-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-667-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….