Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwys die RICA-wysigingswetsontwerp terug na die Parlement oor grondwetlike kwelvrae
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter glo hulle kan vir die Wêreldbekertoernooi kwalifiseer
# En, ‘n piesang-kunswerk verkoop vir meer as 11-miljard-rand in New York
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting terugverwys na die Nasionale Vergadering vir heroorweging. Die Parlement het die wetgewing aanvaar en na die president verwys vir goedkeuring. Dit is daarop gemik om onder meer die onderskepping van sekere kommunikasie te reguleer. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het sy bedenkinge oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp:
# Rise Mzansi het die regering gekritiseer vir sy gebrek aan inligting oor die ekonomiese uitwerking van ‘n Dag Zero-waterkrisis in Gauteng. Dit volg nadat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, erken het daar is geen vooruitskatting nie, ondanks beramings van daaglikse verliese van drie-miljard-rand as 40-persent van sakeondernemings moet sluit. Makhashule Gana van Rise Mzanzi vra samewerking met organisasies soos die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid om gebeurlikheidsplanne te beraam:
# Die eerste ministers van Swede en Denemarke sê hulle sluit nie sabotasie uit nie nadat twee kabels in die Oossee afgesny is, en glo daar is ‘n verhoogde gevaar van hibriede aanvalle. Die C-Lion 1 ondersese kabel, wat Helsinki in Finland en die Duitse hawe Rostock verbind, is in Sweedse waters gesny. Vroeg Sondag is nog ‘n telekommunikasiekabel, die Arelion, wat van die Sweedse eiland Gotland in die Oossee na Litaue loop, ook beskadig. Finland, Duitsland, Litaue en Swede word geraak, en almal het met ondersoeke na die voorvalle begin.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, glo sy spelers kan mededingend wees in volgende jaar se Afrikabekertoernooi en het ook ‘n kans om vir die volgende Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Suid-Afrika het sy kwalifisering vir die Afrikabekertoernooi onoorwonne afgesluit toe hy Suid-Soedan Dinsdag in Kaapstad 3-nul verslaan het. Bafana is boaan groep K en sal saam met Uganda na Marokko vertrek. Broos sê hulle het nou ‘n goeie kans om vir 2026 se Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer, want hulle het ‘n gehalte-span.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-11-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die kunstenaar Maurizio Cattelan se skepping met die titel Comedian is op ‘n veiling in New York vir meer as elf-miljard-rand verkoop. Dit bestaan uit een piesang wat teen ʼn muur vasgeplak is, en foto’s daarvan het soos ʼn veldbrand versprei. Die Chinese versamelaar en stigter van ʼn kriptogeldeenheid-platform, Justin Sun, het die werk gekoop. Sun sal ʼn rol kleefband en een piesang ontvang, asook ʼn egtheidsertifikaat en amptelike aanwysings om dit uit te stal. David Galperin van Sotheby’s beskryf Comedian as ʼn rebelse en geniale werk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….